Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is Voorbeeld

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

DAG 11 VAN 14

’n Nuwe hart

Ons kan vol vertroue wees dat die Here nog werk het om in ons lewens te doen, want Hy het openlik vir die kinders van Israel – en dit sluit ons almal in wat in Hom glo – gesê Hy is nog nie klaar met ons nie. Hy sê dit omdat Hy ons Here is. Dit is Hy wat vir ons ’n nuwe hart sal gee ter wille van die eer van sy Naam. Hy sê Hy sal vir die ongelowiges wys dat Hy sy volk sal red.

Ons kan vanoggend vol vertroue wees dat ons dit tot by die eindstreep sal maak, maar dan moet ons God vertrou en in Hom glo; Hy sal die res doen. God sê Hy sal ons red ter wille van die eer van sy Naam, ter wille van sý reputasie.

As jy vandag deur vuur moet gaan, of as jy onlangs swaar beproef is, belowe die Woord vir jou dat die Here ’n einde daaraan sal bring. Hy sal jou seën. Hy sê Hy sal vir jou ’n nuwe hart gee. Hy sal jou klip hart wegneem en jou in staat stel om Hom te loof sodat Hy jou kan seën. Hoekom? Want Hy is die Here; Hy is daartoe verbind om dit wat Hy in jou lewe begin het te voltooi. Hy het jou geskep. Solank as wat jy met geloof en vertroue leef, sal Hy jou tot aan die einde van jou pad lei.

Die vertroue wat ons vandag kan hê, hang nie af van hoe goed ons is nie, maar van die getrouheid van Jesus Christus. God is van nature die goeie God; Hy is vír jou en nie teen jou nie. Paulus sê in Filippense 1:6: “Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom.” Wees vandag vol vertroue. Solank jy leef deur te glo, solank jy op die Here bly vertrou, sal Hy seker maak jy die wedloop voltooi ter wille van die eer van sy Naam.

Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

“As jy vandag jou vertroue in iemand wil plaas, is daar niemand wat jou vertroue meer verdien nie as die Goeie Herder, die Here Jesus Christus. Ek kan hierdie Herder van harte aanbeveel. Sedert die dag dat ek die eerste keer my vertroue in Hom geplaas het, het Hy my nog nooit in die steek gelaat nie.” Deel Angus Buchan se vertroue-reis in 14 oordenkings uit sy dagboek ’N MOSTERDSAAD.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/