Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is Voorbeeld
Lewend gemaak
Ons dank die Here wanneer ons onthou dat ons Verlosser, Jesus Christus, geen graf hier op aarde het nie. Ek en Jill, my dierbare vrou, was by die graf in Israel wat volgens oorlewering die plek is waar Christus begrawe is. Ek kan jou waarborg die graf is leeg. Daar is geen kis in die graf nie, geen bene nie, geen grafdoeke nie. Jesus Christus is uit die dood opgewek.
Paulus verklaar in sy brief aan die Romeine: "As jy dieselfde Gees in jou het as die Een wat ons Meester uit die graf opgewek het, nadat Hy drie dae lank dood was, sal jou swak, aardse en sterflike liggaam ook uit die dood opgewek word."
Die Woord van God is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde (Heb. 13:8). Dit maak nie saak wat jy vanoggend moet hanteer nie. Al wat jy moet doen, is om die Heilige Gees te vra om jou met sy krag te vul. Ons is nie meer mense van die vlees nie, maar mense van die Gees. Romeine 8:14 sê: “Almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders.” Dit is jou kwalifikasie.
Wanneer jy vandag in die wêreld uitgaan, vra die Gees van God om jou lei. Onthou, die lewe van ’n gelowige is nie afhanklik van gevoelens nie, maar van feite. As jy jou vertroue vandag in die Heilige van Israel plaas, het jy niks om te vrees nie. Ons leef deur te glo en nie deur te sien nie. Wanneer jy jou aandag op die Heilige Gees rig, sal Hy jou swak liggaam versterk en daardie berg wat jy vandag moet uitklim, sal in ’n molshoop verander. Vertrou op die Here. Hy sal jou nooit los nie en jou nooit in die steek laat nie.
Ons dien die God wat wonderwerke doen. Eintlik spesialiseer Hy in wonders. Hoe onmoontliker iets lyk, hoe groter is die wonderwerk! Moenie moed opgee nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
“As jy vandag jou vertroue in iemand wil plaas, is daar niemand wat jou vertroue meer verdien nie as die Goeie Herder, die Here Jesus Christus. Ek kan hierdie Herder van harte aanbeveel. Sedert die dag dat ek die eerste keer my vertroue in Hom geplaas het, het Hy my nog nooit in die steek gelaat nie.” Deel Angus Buchan se vertroue-reis in 14 oordenkings uit sy dagboek ’N MOSTERDSAAD.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/