Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is Voorbeeld

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

DAG 7 VAN 14

Moenie moeg word nie

Om die lewe van geloof te kies, is nie ’n impulsiewe besluit nie. Nee, geloof is ’n leefstyl. Die lewe van geloof word nie bepaal deur jou omstandighede of deur jou sukses nie. Dit gaan daaroor om jou vertroue in God te plaas.

Ek het al ontelbaar baie biografieë van toegewyde mans en vroue van God gelees. Baie van hulle se lewe het aanvanklik skynbaar uit die een mislukking ná die ander bestaan, maar op die ou end loop hulle verhale tog uit op ’n wonderbaarlike deurbraak en ’n wonderlike oorwinning. Die Here sê baie word geroep, maar min word gekies. Die Here stel nie belang in mense wat goed begin nie; Hy stel belang in dié wat volhard en klaarmaak. Dit is soos die goeie boer wat goeie saad saai. Hy wag en op die regte tyd bring hy sy oes in – as hy nie moeg raak nie. So dikwels lyk die mielies wat ek geplant het maar sleg. En tog, wanneer ek dit goed versorg, bring ek op die ou end ’n rekordoes in.

Op ons plaas het ons ’n kinderhuis, Shalom. Vir jare lank saai ons al daar goeie saad. Ek het in die gehoor gesit toe ’n jong man ’n diens in die kerkgebou op ons plaas gelei het. Een van ons jong Zoeloeseuns, wat as ’n baba na ons toe gekom het, is nou al volwasse. Die jong Levitt is daardie dag na die verhoog toe geroep. Hy het sy kitaar opgetel en die mooiste liedere begin sing. Hy het die woorde en musiek self geskryf. Ek dink nie daar was een mens in daardie gebou wie se hart nie warm geword het deur hierdie jong man se woorde nie. Wie sou kon droom dat hierdie jong man die evangelie sou bedien aan die mense wat hom in ons huis ingeneem en hom soos ’n seun liefgehad het?

Moenie moed opgee nie. Vandag sukkel jy dalk met jou kinders; jy en jou eggenoot moet dalk probleme tussen julle hanteer, maar die Here sê: "As julle nie moeg raak om goed te doen nie, sal julle die oes op die regte tyd inbring." Volhard daarom in geloof met daardie verhouding, daardie situasie by die werk, of met die goeie werk. Jesus sal nie toelaat dat jy misluk nie. Hy sal jou beloon, nie net in die hemel nie, maar ook in hierdie lewe op aarde.

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

“As jy vandag jou vertroue in iemand wil plaas, is daar niemand wat jou vertroue meer verdien nie as die Goeie Herder, die Here Jesus Christus. Ek kan hierdie Herder van harte aanbeveel. Sedert die dag dat ek die eerste keer my vertroue in Hom geplaas het, het Hy my nog nooit in die steek gelaat nie.” Deel Angus Buchan se vertroue-reis in 14 oordenkings uit sy dagboek ’N MOSTERDSAAD.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/