Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is Voorbeeld

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

DAG 2 VAN 14

Die Goeie Herder

Dit is vandag baie moeilik om iemand te vind wat jy kan vertrou en na wie jy kan opkyk. Daarom is dit so wonderlik om te weet daar is Iemand wat getrou en betroubaar is, wat ons nooit sal laat los en ons nooit sal verlaat nie. Hy is die goeie herder, Jesus Christus. Hy noem Homself met goeie rede die "Goeie Herder". Hy sê Hy is nie ’n huurling nie, want wanneer die vyand soos ’n wolf kom om die skape uitmekaar te jaag, sal ’n huurling vlug en die skape net so los om eerder homself te beskerm. Maar die goeie herder sal getrou bly en die ingang van die kraal bewaak en geen indringer toelaat om daar in te gaan nie.

As jy vandag jou vertroue in iemand wil plaas, is daar niemand wat jou vertroue meer verdien nie as die goeie herder, die Here Jesus Christus. Ek kan hierdie herder van harte aanbeveel. Sedert die dag dat ek die eerste keer my vertroue in Hom geplaas het, het Hy my en my gesin nog nooit in die steek gelaat nie. Jesus het baie name – die Wingerdboer, die Helder Môrester, die Koning van alle konings, die Heer van die heersers, die Leeu van Juda en die Vriend van sondaars. Maar Hy word ook die Goeie Herder genoem.

In Suid-Afrika jaag ons ons skaaptroppe van agter aan, gewoonlik met die hulp van skaaphonde. Die herders van die Midde-Ooste, van wie Jesus hier gepraat het, het egter hulle skape gelei deur voor hulle uit te stap en die skape het hulle gevolg. As enige roofdiere die skape van voor af wou aanval, het die herder hulle eerste gesien en hulle afgeweer. 

Wanneer jy vandag werk toe gaan, onthou: “Sommige volke vertrou op strydwaens en perde, maar ons vertrou op die Naam van die HERE ons God” (Ps. 20:8). Plaas jou vertroue in die Here en Hy sal jou nie verlaat nie. Onthou egter dat Hy die heilige God is. Jy kan nie twee meesters dien nie. As jy nie op God se pad stap nie, stel jy jou bloot aan die vyand. Leef eerder soos God van jou vra en laat Hy die herder wees wat in die ingang na die skaapkraal gaan staan en jou beskerm teen die vyand wat jou onderneming, jou huwelik en jou toekomsvisie wil aanval.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

“As jy vandag jou vertroue in iemand wil plaas, is daar niemand wat jou vertroue meer verdien nie as die Goeie Herder, die Here Jesus Christus. Ek kan hierdie Herder van harte aanbeveel. Sedert die dag dat ek die eerste keer my vertroue in Hom geplaas het, het Hy my nog nooit in die steek gelaat nie.” Deel Angus Buchan se vertroue-reis in 14 oordenkings uit sy dagboek ’N MOSTERDSAAD.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/