Ons Daaglikse Reis: 'n 30-dae Stap Saam Met JesusVoorbeeld
Dwingende Genade
My vriende in my Bybelstudiegroep lag as ek getuig hoe ek probeer het om God te vermy. Ek het geglimlag, maar dit was glad nie 'n grap nie. Sy aansporings om my eise van geregtigheid te laat vaar en genade te betoon, het my met wrewel gevul. Ek was lus om my vuis (soos die profeet Jona) te bal en te skree: "U wil hê ek moet waarnatoe gaan om wat te doen?!"
Assirië was Israel se aartsvyand—'n sondige nasie wat onuitspreeklike wreedhede gepleeg het. Niemand het veroordeling meer verdien as hulle nie. God het vir Jona gestuur om in die Assiriese stad Nineve, te gaan preek, maar hy het eerder Tarsis toe gevlug—weg van die Here se teenwoordigheid (Jona 1:3). Die profeet sou baat gevind het by my vriende se raad: "Jy kan nie van God af weghardloop nie," het hulle vir my gesê. "Hy weet waar om jou te vind."
Hulle was reg
God het Jona met 'n hewige storm agtervolg—wat eers bedaar het toe hy in die see gegooi is. God het toegelaat dat die profeet in 'n vis se maag beland om oor sy opdrag te besin (v. 17). Uiteindelik het Jona God se stem gehoorsaam. Die verontwaardiging wat hy gevoel het toe God hom aanvanklik die opdrag gegee het, het oorgekook toe die mense van Nineve wel tot inkeer gekom het (3:6-10). Hy was woedend en het verklaar: "Laat ek nou maar sterf, Here," eerder as om te sien hoe sy vyande tot bekering kom (4:1-3). God het egter nie gemene, sondige mense gesien nie, Hy het verlore siele gesien wat redding nodig gehad het (v.11).
Net soos met Jona, het God se genade my agtervolg. Oral waar ek gegaan het, het beelde en boodskappe van die kruis my gekonfronteer. In die lig van my sonde, kon my eis vir geregtigheid geensins kers vashou met God se heiligheid nie. Sy genade het my gedwing om die beskuldigings wat teen my geslinger is, in die gesig te staar, want Jesus het die volmaakte ruil bewerk—Sy geregtigheid vir my gebrek daaraan. In hierdie waarheid het ek my verbly en ek het Hom hoor fluister: "Gaan en doen dieselfde" (Lukas 10:37). —Remi Oyedele
MEER: Lees Lukas 15:25-32 en dink na oor hoe die verlore seun se ouer broer reageer het met sy terugkoms.
VOLGENDE: Is daar 'n persoon of omstandigheid in jou lewe wat jou groot pyn veroorsaak het? Watter bydrae lewer die werklikheid van God se genade tot jou reaksie daarop?
Aangaande hierdie leesplan
Elke reis het voorrade nodig. Op die lewensreis is sommige van die beste voorrade God se Woord en 'n bietjie aanmoediging van vriende. Hierdie leesplan, "Ons Daaglikse Reis," behels 30 dae se oordenkings deur betroubare outeurs, wie se insigte 'n inspraak in jou lewe sal hê. Elke kort oordenking bevat 'n verhaal met verskeie meegaande Skrifverwysings en 'n "Volgende" afdeling om jou te help om in diepte na te dink oor wat jy gelees het. Benut jou stiltetyd ten beste met hierdie waarhede en bemoedigings uit "Ons Daaglikse Reis".
More