Ons Daaglikse Reis: 'n 30-dae Stap Saam Met JesusVoorbeeld
Gekose Instrumente
My dogter is net 5 jaar oud, maar sy is al 'n selferkende "kunstenaar." Nou die dag het ons oor verfkwasse gepraat. Ek het twee uitgekies en dit vir haar gegee. Die eerste een was dun met borselhare wat in 'n dun punt gevorm is. Die ander een was langer en dikker. Ek het aan haar verduidelik dat kunstenaars gewoonlik 'n groter verfkwas gebruik om groot gedeeltes mee te verf en dat kleiner verfkwasse beter werk vir kleiner spasies en fyn besonderhede. Verfkuns vereis dat jy die regte instrument op die regte tyd in jou kunswerk gebruik.
Kort na Jesus se dood en opstanding het Hy die volgende aangekondig: "Ek het hom [Paulus] gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel." (Handelinge 9:15)
Paulus was die regte man vir dié werk, deels omdat "Van my kinderdae af... ek [Paulus] tussen my eie mense in Jerusalem gebly [het]." (Handelinge 26:4) As 'n Joodse man wat Hebreeus gepraat het, het Paulus in aanraking gekom met die gewone Israeliete, sowel as belangrike regeringsamptenare. Hy het selfs 'n impak onder die vername geestelike leiers gehad, omdat hy ook voor sy bekering "'n lid van die Fariseërs" was. (Handelinge 26:5)
As 'n Jood en Romeinse burger van geboorte, was Paulus vlot in Hebreeus en Grieks (Handelinge 21:37-39). Hierdie ekstra taal het hom in staat gestel om met amper almal te kon gesels op sy sendingreise. Sy vlotheid in Grieks het hom in staat gestel om kerke te stig en selfs om met Epikureërs en die Stoïsyne te debateer (Handelinge 17:18).
God het Paulus uniek geskape om 'n effektiewe evangelis te wees (Galasiërs 1:15-16). Net so beplan God ons almal se lewens op unieke maniere—ons praat verskillende tale, woon op verskillende plekke en het uiteenlopende vaardighede. Ons is sy uitverkorene instrumente, gemaak vir nou (Efesiërs 2:10) —Jennifer Benson Schuldt
MEER: Lees in Filippense 3:5-7 van Paulus se kwalifikasies en waar hy sy ware identiteit gevind het.
VOLGENDE: Kan jy insien dat jou beperkinge verband hou met jou vermoë om God te dien? Op watter unieke manier het Hy jou geskape en geroep vir sy diens?
Aangaande hierdie leesplan
Elke reis het voorrade nodig. Op die lewensreis is sommige van die beste voorrade God se Woord en 'n bietjie aanmoediging van vriende. Hierdie leesplan, "Ons Daaglikse Reis," behels 30 dae se oordenkings deur betroubare outeurs, wie se insigte 'n inspraak in jou lewe sal hê. Elke kort oordenking bevat 'n verhaal met verskeie meegaande Skrifverwysings en 'n "Volgende" afdeling om jou te help om in diepte na te dink oor wat jy gelees het. Benut jou stiltetyd ten beste met hierdie waarhede en bemoedigings uit "Ons Daaglikse Reis".
More