Ons Daaglikse Reis: 'n 30-dae Stap Saam Met JesusVoorbeeld
Vure en Geloof
As ek 'n staptog onderneem en vir 'n paar dae kampeer, is kampvure noodsaaklik. Die belangrikste ding wat ek elke dag saam met my dra, is 'n handvol verkoolde stokkies van die vorige nag se vuur. Hulle is die heel beste om 'n vuur mee te begin—dis nie nodig om droë gras of takkies te soek nie. Ek steek net die verkoolde ente aan die brand, blaas op hulle en stapel 'n paar vars stompe daarop.
Die verkoolde stokke is vuil, dit stink en lyk waardeloos. Die rede waarom hulle egter so nuttig is, is omdat hulle reeds deur die vuur is en die vlamme hulle voorberei het vir toekomstige gebruik.
Gepraat van vuur en rook, waarom het God toegelaat dat Sadrag, Mesag en Abednego oënskynlike dood in die vuuroond in die gesig gestaar het? (Daniël 3: 19-21). Hoekom was hulle nie bang vir die vlamme nie? Hoe kon hulle in die vuur staan sonder om te skroei, terwyl die wagte naby hulle gesterf het van die intense hitte? (verse 22-24). God is verheerlik in hierdie wonderlike verhaal, maar miskien het Hy ook die ervaring gebruik om die driemanskap se geloof te laat groei en verdiep. Dit sou moeilik wees om deur so 'n ervaring te gaan sonder om gesuiwer en gelouter te word!
Daar is geen kortpad ter voorbereiding om God te dien nie, en dit beteken byna sonder uitsondering om deur 'n vuur te gaan (al is dit gelukkig gewoonlik nie 'n letterlike een nie). Kyk hoe "vuur" uithouvermoë en volwassenheid in Jakobus 1:3 voortbring: "Want, soos julle weet, as julle geloof die toets weerstaan het, stel dit julle in staat om te volhard."
Net soos slegs 'n stapper die egte waarde in sy verkoolde stokkies van die vorige nag sien, is die helde in Hebreërs 11 gelouter sodat God hul geloof kon vervolmaak. Hy sien die vure van die lewe vir wat hulle is: aktiewe agente wat veroorsaak dat ons geloof blink geskuur, gelouter en versterk word vir Hom. —Russell Fralick
MEER: Lees Hebreërs 11: 32-40 en let op die uitdagings wat baie geloofshelde verduur het, maar ook hoe hulle beskou is as "te goed vir hierdie wêreld" (v. 38).
VOLGENDE: Met watter "lewensvure" is jy al gekonfronteer? Hoe het God te werk gegaan om jou karakter daardeur voor te berei en te vervolmaak?
Aangaande hierdie leesplan
Elke reis het voorrade nodig. Op die lewensreis is sommige van die beste voorrade God se Woord en 'n bietjie aanmoediging van vriende. Hierdie leesplan, "Ons Daaglikse Reis," behels 30 dae se oordenkings deur betroubare outeurs, wie se insigte 'n inspraak in jou lewe sal hê. Elke kort oordenking bevat 'n verhaal met verskeie meegaande Skrifverwysings en 'n "Volgende" afdeling om jou te help om in diepte na te dink oor wat jy gelees het. Benut jou stiltetyd ten beste met hierdie waarhede en bemoedigings uit "Ons Daaglikse Reis".
More