Koninkryk KomVoorbeeld

Kingdom Come

DAG 7 VAN 15

GEBED:

Vader, ek wil graag meer soos U wees. Help my om meer maniere te kry waardeur ek met U 'n verbintenis kan maak en groei.


LEESSTUK:

Het jy ooit die rolprent, Karate Kid gesien? Dis 'n storie van Daniël, 'n hoërskoolseun, wat met die klassieke 1980-styl boelies worstel. Daniël ontdek dat die opsigter van sy woonstelkompleks, Mnr. Miyagi, 'n karatekenner is en Daniël sien die perfekte oplossing vir sy probleem. Mnr. Miyagi stem in om vir Daniël af te rig en laat hom begin deur motors te poleer, heinings te verf en vloere af te skuur. Daniël werk dae lank aan hierdie uitputtende en herhalende take. Uiteindelik raak hy gefrustreerd en vaar teen sy afrigter uit oor al die werk wat hy moet doen sonder om enigiets oor karate te leer. Dan verduidelik Mnr. Miyagi aan Daniël dat die herhalende bewegings waarmee hy dae lank besig was, hom eintlik karate geleer het! Mnr. Miyagi slaan 'n hou na hom en Daniël ontdek hy het die krag en spiergeheue ontwikkel vir allerlei bewegings wat dae vroeër bo sy vermoë was.


Die Karate Kid dien as 'n uitmuntende illustrasie hoe geestelike gebruike in ons lewens werk. Ons lees van liefde, vreugde, vrede, geduld en ander fantastiese dinge wat ons in ons lewens wil hê. Ons kan hierdie eienskappe egter nie deur ons eie direkte insette behaal nie. Ons kan onsself nie in vreugde in forseer nie, of miskien net vir 'n rukkie. Hoe moet ons dan soos Paulus aan Timoteus in hierdie gedeelte geskryf het "oefen … om jou lewe aan God toe te wy"? Ons span onsself in tot geestelike gebruike. 


Geestelike gebruike is Jesus se plaasvervangers om motors te poleer en vloere te skuur. Dit mag voorkom of jy nie veel bereik wanneer jy daagliks tyd afstaan om voor God stil te raak, die Bybel te lees en te bid nie. Tog, wanneer jy op 'n dag voor 'n onverwagte omstandigheid te staan kom, sal jy verbaas wees dat jy nie soos voorheen optree nie. In plaas daarvan, kom jy agter dat jy die omstandigheid met geduld hanteer — en steeds vrede het.


Net soos fisieke afrigting en oefening, gee geestelike gebruike ons die vermoë om mettertyd dinge te doen wat voorheen bo ons vermoëns was. Mnr. Miyagi, ek wil jou nie aanstoot gee nie, maar geestelike gebruike doen baie meer as bloot om natuurlike vermoëns op te skerp en te versterk. Inteendeel, hulle gee ons toegang tot die krag van die Heilige Gees wat in ons werk om al hoe meer van Jesus se eienskappe te kweek.


Die skrywer, Dallas Willard, beskryf geestelike gebruike, waarna hy as "dissiplines" verwys, so: "Die dissiplines is aktiwiteite wat doelbewus deur die denke en liggaam onderneem word om ons persoonlikheid en ons hele wese in doeltreffende samewerking met die Goddelike orde te bring. Dit stel ons al hoe meer in staat om met krag te lewe, wat streng gesproke, bo ons vermoëns is en vanuit die geestelike sfeer self verkry word."


Wanneer jy dus in die versoeking kom om daardie daaglikse gebedstyd en Skriflesing oor te slaan, onthou net die woorde van jou afrigter: "vryf politoer aan, vryf politoer af".  Grappie … die ander Leermeester: "Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie" (Johannes 15:5). 


NADENKE:

Hier volg 'n paar uitgesoekte geestelike gebruike wat vir Jesus se volgelinge oor die eeue heen gehelp het. Dit is in twee kategorieë verdeel — gebruike van deelname en gebruike van selfbeheersing. Gaan deur die lys en oorweeg een nuwe gebruik waarmee jy kan begin om met God 'n verbintenis te maak.


Gebruike van Deelname 

Hierdie gebruike help ons deur nuwe ritmes aan te leer om met God te verbind gedurende ons gewone roetines om tot Hom te nader.


  • Bybellees: Om tyd deur te bring deur die Skrif te lees en te oordink sodat God met jou kan praat, jou kan lei en onderrig. Dit sluit verskillende benaderings tot lees, studie en nadenke in en selfs om die woorde in die Skrif te bepeins.  
  • Aanbidding: Om die uitdrukking van dankbaarheid te vier, vir wie God is en wat Hy gedoen het. Dit kan privaat wees of in amptelike aanbiddingsdienste. Aanbidding kan deur musiek gedoen word, maar is nie daartoe beperk nie.  
  • Gebed: Om met God oor ons ervarings te praat. Gebed kan aanbidding, soos hierbo verduidelik, insluit of voorbidding (om vir ander se behoeftes te bid), belydenis en baie ander komponente. Daar is nie net een manier van bid nie, net soos daar nie net een manier is om met mense in 'n verhouding te kommunikeer nie. Gebed kom uiteindelik daarop neer om 'n intellektuele, emosionele en geestelike verbintenis met ons hemelse Vader te maak sodat ons sal weet wat sy wil is en dit vertrou.  
  • Vrygewigheid: Ons liefde vir God is veronderstel om oor te vloei na ander. 'n Manier om sy liefde te demonstreer, is deur vrygewig te wees met ons tyd, energie en hulpbronne.


Gebruike van Selfbeheersing 

Deur hierdie gebruike ontsê ons onsself van iets wat ons wil hê of nodig het om sodoende ruimte te skep om op God te fokus en met Hom te verbind. In wese, help hierdie gebruike ons om 'n verbintenis met God te maak deur ons van dinge in ons normale roetines te ontneem.  


  

  • Alleenwees: Om jou te onttrek sodat jy alleen met God kan wees en op Hom fokus en dit wat Hy vir ons wil sê.   
  • Vas: Om vir 'n vasgestelde tydperk sonder kos of 'n begeerte of behoefte te bly om sodoende beter op gebed en 'n verbintenis met God te fokus.  
  • Sabbat/Rus: Om gereeld tyd af te sonder wanneer ons nie werk of op produktiwiteit fokus nie sodat ons kan aanbid, rus en herlaai. God het vir Israel die sabbat ingestel om vir 'n volle dag per week te onderhou, maar die kern van 'n sabbatsrus kan ook vir korter tydperke onderhou word.


Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Kingdom Come

Ons het gehoor dat Jesus "lewe in oorvloed" aanbied en ons smag na daardie ondervinding. Ons wil die lewe hê wat aan die anderkant van verandering is. Watter soort verandering het ons nodig? Hoe moet ons te werk gaan om te verander? In Koninkryk Kom sal jy 'n nuwe manier verken om die onderstebo en binnestebuite lewe te lei waarin God ons nooi.

More

Ons wil graag vir North Point Community Church bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek asseblief: http://northpoint.org