Koninkryk KomVoorbeeld

Kingdom Come

DAG 9 VAN 15

GEBED:

Vader, help my om te sien hoe U vandag in my werk. 


LEESSTUK:

Met die eerste oogopslag mag hierdie verse verwarrend voorkom. Sinspeel Paulus dat verlossing iets is wat ons met verloop van tyd kan verdien, iets wat ons veronderstel is om "uit te werk"? Daar is baie Skrifgedeeltes wat aandui dat verlossing nie iets is wat jy kan behaal nie; dit is iets wat jy ontvang. Dit is 'n genadegawe wat God vrylik aan ons skenk. Waarna verwys Paulus dan hier?


Die sleutel om die frase "werk julle eie heil uit" (Filippense 2:12 AFR53) te verstaan, vind ons eintlik in die volgende vers waar Paulus skryf "want dit is God wat in julle werk". Paulus is eintlik besig om Jesus se volgelinge aan te moedig om voortdurend geestelik te groei. Om Jesus te volg is nie bloot 'n kortstondige besluit nie. Inteendeel, dit is 'n reeks oomblikke en besluite wat tot 'n reis van herskepping lei. Die oomblik wanneer jy jou aanvanklike besluit neem om Jesus te volg, verklaar God jou as onberispelik en regverdig voor Hom. Hy gee aan jou 'n nuwe status en stand as 'n kind van God. Die teologiese woord hiervoor is regverdiging. Die res van die reis is die proses waarvolgens ons prakties word wat God ons alreeds in ons nuwe stand verklaar het. Dit word heiligmaking genoem. God is aan hierdie proses in jou lewe verbonde. "Want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer." Dit is nie iets wat Hy sonder jou deelname doen nie. 


George Müller, die negentiende-eeuse evangelis stel dit so: "Die gelowige moet klaarmaak, heeltemal deurvoer, moet die volledige gevolge toepas wat alreeds in beginsel deur God gegee is ... Die gelowige werk nou aan dit wat God reeds in sy genade bewerk het."


Dit is die uiteindelike betekenis van die reis tot geestelike groei — om nou te werk aan wat God reeds bewerk het. Ons is in vennootskap met God in die herskepping wat Hy in ons lewens doen. 


NADENKE:

Kry êrens 'n rustige plek waar jy in stilte tyd met God kan deurbring. Jy mag dalk sukkel om 'n plekkie te kry, maar wees doelbewus om innerlik stil te raak. 

Vra vir God om jou diep van sy teenwoordigheid bewus te maak. Vra Hom om aan jou te openbaar hoe Hy in jou werk en hoe jy aktief in jou geestelike groei betrokke kan raak. Dank Hom dan vir sy getrouheid en vra dat Hy jou bewustheid sal opskerp om te weet hoe sy Gees in jou werk.


Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Kingdom Come

Ons het gehoor dat Jesus "lewe in oorvloed" aanbied en ons smag na daardie ondervinding. Ons wil die lewe hê wat aan die anderkant van verandering is. Watter soort verandering het ons nodig? Hoe moet ons te werk gaan om te verander? In Koninkryk Kom sal jy 'n nuwe manier verken om die onderstebo en binnestebuite lewe te lei waarin God ons nooi.

More

Ons wil graag vir North Point Community Church bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek asseblief: http://northpoint.org