Koninkryk KomVoorbeeld
GEBED:
Vader, gee my oë om die wêreld te sien soos U dit sien en om ander mense te sien soos U hulle sien.
LEESSTUK:
As jy 'n ouer is of, toe jy 'n kind was, het jy waarskynlik al met sjokolademelk te doen gehad. Jy weet dus wanneer jy die melk begin roer en dit van wit na bruin verander, is dit nie 'n toorkunsie nie. Dis omdat daar reeds sjokoladestroop op die boom van die glas was. Alles wat nodig was om die melk na sjokolademelk te verander, was reeds daar, maar dit moes geroer word om die verandering teweeg te bring.
Die skrywer van Hebreërs sê daar gaan iets soortgelyks aan in die lewe van 'n volgeling van Jesus. Ons het in ons die vermoë en krag om "groot dade te doen en baie lief te hê". Soms bly daardie vermoë egter rustend. Dit gaan lê op die boom en kom nie stelselmatig boontoe na die wêreld waar dit so desperaat nodig is nie. Dit het iemand of miskien 'n groep "iemande" nodig om dit te kom roer.
Dit is een van die belangrikste gawes wat Jesus se volgelinge aan 'n ander kan gee. Jy kan die een wees wat beroering bring en weier om toe te laat dat liefde op die boom van ons lewens gaan lê. Julle kan langs ander staan en liefde in dade verander deur bemoediging, verantwoordbaarheid en ondersteuning.
Ons moet sulke verhoudings in ons lewens prioritiseer. Ons moet ook aan ander toestemming gee om vir ons die waarheid te vertel, al is dit ook hoe moeilik om te hoor — selfs al is dit ontstellend. Ons vind dikwels dat 'n bietjie ontsteltenis vir ons nodig is om 'n lewe van groter liefde en doel te ontdek.
NADENKE:
Om gesonde verhoudings wat ons besiel te prioritiseer, verg doelbewustheid en kwesbaarheid. Oorweeg biddend die mense in jou lewe — gesin, familie, vriende en medewerkers. Wie is die veiligste mense? Dit mag dalk wees dat die veiligste mense nie juis naby aan jou is nie, maar jy sou graag nader wou kom omdat hulle goed vir jou sal wees. Hoe sou dit vir jou wees om aan hierdie veilige mense die toestemming te gee om die waarheid ten diepste in jou lewe te praat? Oorweeg om hulle te nooi om nader aan jou 'n pad te stap en jou in groter egtheid te leer ken, wanorde en al.
Vra die Heilige Gees om die mense vir jou uit te wys wat Hy nader aan jou in jou lewe wil hê. Reik dan na hulle uit.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ons het gehoor dat Jesus "lewe in oorvloed" aanbied en ons smag na daardie ondervinding. Ons wil die lewe hê wat aan die anderkant van verandering is. Watter soort verandering het ons nodig? Hoe moet ons te werk gaan om te verander? In Koninkryk Kom sal jy 'n nuwe manier verken om die onderstebo en binnestebuite lewe te lei waarin God ons nooi.
More