Koninkryk KomVoorbeeld
GEBED:
Vader, wanneer ek in die versoeking kom om genade van ander te weerhou, herinner my aan die genade wat U gewilliglik aan my betoon.
LEESSTUK:
Wanneer ons die gelykenis in Lukas 15 lees, is die versoeking sterk om die ouer broer af te skryf as 'n uitermate voorbeeld van arrogansie en selfgeregtigheid — iemand met wie ons ons doodeenvoudig nie kan vereenselwig nie. Maar, as ons dit sou doen, dan kan ons 'n belangrike waarheid misloop: Ons het almal 'n bietjie van die "ouer broer" in ons.
As jy die ouer broer van naderby beskou, sal jy dalk vind sy reaksie is nie so uitermatig nie. Die woede wat hy voel, gaan oor regverdigheid. Hy glo dit is eenvoudig nie regverdig dat sy pa sy jonger broer dieselfde behandel as vir hom nie. Eerlikwaar, hy het 'n punt beet. Lyk dit nie of hy meer as sy broer verdien nie? Het sy gehoorsaamheid en beginselvastheid nie vir hom meer verdien nie?
Ons sien baiemaal God se aanbod van onverdiende genade as slegs positief. Tog soms, wanneer ons dit in die regte lewe en verhoudings sien afspeel, kan genade 'n struikelblok word. Indien ons toelaat dat vergelyking insluip, kan genade vir ons 'n baie wesenlike probleem skep. Dit is nie regverdig nie.
Hoe regverdig is dit vir God om iemand se sonde oor te sien, veral as onsself daardeur aan die kortste ent trek? In Paulus se brief aan die Christene in Rome, praat hy spesifiek oor hierdie spanning.
God het Christus deur die vergieting van sy bloed, as soenoffer aangebied — om in geloof ontvang te word. Hy het dit gedoen om sy geregtigheid te demonstreer, want in sy verdraagsaamheid het Hy die sondes wat dit voorafgegaan het, ongestraf laat bly — Hy het dit gedoen om sy geregtigheid in die hede te demonstreer, om sodoende regverdig te wees en om diegene wat in Jesus glo te regverdig.
— Romeine 3:25-26
Hoe kan God beide "regverdig" en "die Een wees wat sondaars regverdig"? Vee Hy sonde onder die mat in asof dit nie gebeur het nie? Beteken dit dat Hy sonde nie ernstig opneem nie?
Dit lyk soos 'n teenstrydigheid, en dit is, behalwe as daar meer ter sprake is — behalwe as daar op een of ander manier vir die sonde betaal kan word sonder om dit voor die deur van die een wat gesondig het te lê. Paulus skryf dat Jesus ons "soenoffer" is — die offer wat die prys betaal het om ons verhouding met God reg te maak.
Jesus is die antwoord op die probleem wat genade voorhou. Deur Jesus kan God "die Een wees wat regverdig maak" terwyl Hy ook steeds "regverdig" is as die Een wat ook bestendig is om ons van sonde se gevolge te bevry.
Dus, wanneer jy in die versoeking kom om genade of vergifnis van iemand te weerhou omdat hulle dit nie verdien nie, onthou dat Jesus nie na ons toe kom en sê: "Ek is lief vir jou omdat jy perfek is" nie. In plaas daarvan, kom Hy na ons toe, wetende van ons tekortkominge en sê: "Ek is lief vir jou nes jy is, en Ek sal die prys betaal om jou perfek te maak." God het nie besluit op regverdigheid in sy verhouding met jou nie; Hy het gewilliglik die prys betaal. Wanneer dit by ons verhouding met God kom, het ons nie regverdigheid nodig nie — ons het genade nodig. As mense wat iets so waardevol ontvang het, moet ons gretig wees om genade aan ander te bewys.
NADENKE:
Staan tyd af om die volgende vrae in jou dagboek te beantwoord:
• Waar het jy genade weerhou? Is daar 'n situasie of persoon wat by jou opkom? Hoekom voel dit so moeilik om genade in hierdie situasie te bewys?
• Is daar iemand in jou lewe wat jy glo buite die bereik van genade is? Hoe sou dit wees om daardie persoon en situasie voor die Vader neer te lê en Hom te vra dat sy hart van genade in jou gevorm sal word?
Wanneer jy kans gehad het om die bostaande vrae te beantwoord, soek 'n plek om vir 'n paar oomblikke saam met Jesus stil te word. Namate jy stil word, hou jou hande na onder en met gebalde vuiste. Stel jou voor die Vader omhels die persoon wat jou seergemaak het. As jy spanning in jou voel opstyg, klem jou vuiste stywer vas. Bly so vir 'n klein rukkie as jy dit nodig vind. Wanneer jy gereed is, haal diep asem en vra vir God om vir jou sy hart vir die persoon te gee. Draai jou vuiste om met jou palms boontoe. Ontspan en haal diep asem terwyl jy jou vuiste oopmaak en hulle aan die Vader vrylaat.
As jy nog nie reg is om die spanning te laat vaar nie, laat hierdie oefening toe om 'n opregte gebed te wees dat God jou sal help om in daardie rigting te beweeg.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ons het gehoor dat Jesus "lewe in oorvloed" aanbied en ons smag na daardie ondervinding. Ons wil die lewe hê wat aan die anderkant van verandering is. Watter soort verandering het ons nodig? Hoe moet ons te werk gaan om te verander? In Koninkryk Kom sal jy 'n nuwe manier verken om die onderstebo en binnestebuite lewe te lei waarin God ons nooi.
More