Koninkryk KomVoorbeeld

Kingdom Come

DAG 4 VAN 15

GEBED:

Vader, wys aan my waarheen ek in hierdie lewe my toevlug vir sekuriteit en betekenis neem. Help my om dit te laat vaar en op U te vertrou.


LEESSTUK:

Stel jou voor dat jy die enigste oorlewende skipbreukeling is. Jy dryf vir dae terwyl jy aan 'n wrakstuk vasklou wat jy in die hande gekry het. Wanneer jy al amper moed verloor het, verskyn daar 'n boot op die horison. Kort daarna is die boot langs jou en hulle gooi 'n reddingstou na jou toe. Hulle sê jy moet die stuk hout los en die tou vasgryp. Dit klink na 'n eenvoudige opdrag, nè? Jy is in 'n desperate situasie waaruit jy nie op jou eie kan kom nie, terwyl iemand na jou toe gekom het wat gewillig is en die vermoë het om jou te red. Al wat jy hoef te doen is om die hout te los en die reddingstou te vat. Al wat jy hoef te doen is om te vertrou.


Wat as jy egter voor jy die reddingstou gryp, jou besluit bevraagteken omdat hierdie stuk hout jou gedurende die afgelope paar dae op die see deur baie gedra het. Dit was daar toe jy dit nodig gehad het en jy het daarop staatgemaak vir oorlewing. Om die wrakstuk nou te los en aan iets anders vas te gryp, klink net te moeilik. Jy skree dus na die boot toe: "Nee, ek gaan liewer aan die stuk hout vashou!"


Dit sou 'n belaglike besluit gewees het! Of ons dit besef of nie, is dit presies die besluit wat ons geneig is om heeltyd in ons geestelike lewens te neem. Wanneer Jesus ons nooi om Hom te volg en 'n nuwe lewe as deel van sy koninkryk te begin leef, nooi Hy ons om ons vertroue aan Hom oor te dra. Hy nooi ons om die dinge waarop ons voorheen vir ons sekuriteit en betekenis vertrou het te laat vaar — en om aan Hom as ons nuwe Bron vas te hou. Om ons manier van leef "te laat vaar", kan soms amper voel asof ons sterf wanneer ons die lewe soos ons dit ken, moet verloor. Dit kan vreesaanjaend wees en selfs pynlik om daardie tree te neem. 


Anders as die verhaal van die skipbreukeling, kan ons besluit om te laat vaar en te vertrou, nie 'n eenmalige besluit wees nie. Selfs nadat ons besluit het om op Jesus te vertrou en Hom te volg, mag ons soms nog aan dele van ons ou manier van lewe wil vasklou. Ons kom agter dat ons na die bekende bronne van sekuriteit en betekenis wil terugkeer. Elke keer sal ons — weer — die besluit moet neem om te laat vaar en eerder die lewe wat Jesus ons aanbied vas te gryp. 


Wanneer jy weer voor so 'n oomblik te staan kom, herinner jouself aan Jesus se belofte in die Skrifgedeelte hierbo. Dit is deur te verloor, die proses om ons ou lewens te laat vaar, dat ons die lewe in die diepste en volledigste sin kan vind.


NADENKE:

Jesus nooi ons om ons vertroue van die ou, bekende dinge waaraan ons vasklou vir hoop en sekuriteit, na iets baie beter oor te plaas. Jesus self. Watter gedeeltes is vir jou die moeilikste om te laat vaar en Hom mee te vertrou? Staan tyd af om in jou dagboek te skryf waarin jy God vra om die gedeeltes in jou hart en lewe aan jou te openbaar waarmee jy nog sukkel om Hom mee te vertrou.  


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Kingdom Come

Ons het gehoor dat Jesus "lewe in oorvloed" aanbied en ons smag na daardie ondervinding. Ons wil die lewe hê wat aan die anderkant van verandering is. Watter soort verandering het ons nodig? Hoe moet ons te werk gaan om te verander? In Koninkryk Kom sal jy 'n nuwe manier verken om die onderstebo en binnestebuite lewe te lei waarin God ons nooi.

More

Ons wil graag vir North Point Community Church bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek asseblief: http://northpoint.org