In Die BeginVoorbeeld
Lees: Genesis 3:1–7; 1 Petrus 5:8–9
SOAP: 1 Petrus 5:8–9
"Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur."
Oordenking
Die slang het geweet hoe om die vrou te mislei. Hy het geweet hoe om die woorde en opdragte van God te verdraai om haar te laat glo dat God haar van sekere goed weerhou. Wat hy gesê het, was gedeeltelik waar, maar nie heeltemal nie. Hy het God se woorde op so ‘n manier verdraai om die vrou te laat glo dat God iets goeds van haar weerhou.
Die vrou was ook 'n bietjie onseker oor God se opdragte. Sy het aan die slang gesê dat God gesê het hulle mag nie van die boom eet of aan die boom raak nie. God het net gesê dat hulle nie van die boom kon eet nie. Hierdie bykomende opdrag om nie aan die boom te raak nie, het nie van God gekom nie. Of die man dit vir die vrou gesê het en of hulle saam daaroor besluit het, dit het nie van God gekom nie.
Die slang het voortgegaan om vir die vrou te lieg. Hy het haar vertel dat sy iets goeds sou ontvang — wysheid — nie die dood soos God gesê het nie. Hy was op die roof uit en wou die vrou verslind. Die vrou en die man het nie die opdragte van God nagekom nie en die aanloklike aanbod van die slang aanvaar.
Wanneer ons voor die versoeking tot sonde te staan kom, sal ons dikwels soortgelyke omstandighede in die gesig staar. Die vyand mag probeer om ons te oortuig van iets wat gedeeltelik waar is, of wat elemente van die waarheid bevat. Hy probeer om ons om elke hoek en draai te mislei en vas te trek, soos 'n leeu wat op soek is na 'n prooi. Maar daar is hoop! Ons moenie ‘n slagoffer van sy planne word nie. Met God se hulp kan ons versoekings teenstaan. Terwyl ons die Woord van God bestudeer en memoriseer, word ons bewapen met waarheid. Wanneer ons weet wat die waarheid is, as ons seker is van presies wat God sê, sonder om daaraan toe te voeg of van dit weg te neem, is ons die beste gewapen om die aanvalle van die vyand die hoof te bied.
Gebed
Here Jesus, gee my wysheid om te weet wat waar is en wat nie waar is nie. Help my om vas te staan teen die planne van die vyand, bewus daarvan dat hy my altyd wil vastrek. Ek begeer om U Woord te eer en U te volg. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
In die Begin is 'n ses weke lange Bybelstudie oor Genesis 1-11. Hierdie studie ondersoek die skeppingsverhaal, die oorsprong van die mensdom, die invloed van sonde op die wêreld, die onmiddelike belofte van verlossing, die redes vir die vloed, God se voorsiening vir Noag en sy familie, God se eerste verbond met die mensdom en die geslagsregister van die Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/