Wedstryd Van Die LeweVoorbeeld

Wedstryd Van Die Lewe

DAG 9 VAN 10

Om foute te maak

Foute op die sportveld kan jou duur te staan kom. Dit kan jou wedstryde kos. Foute kan jou span laat verloor. Ongelukkig is foute deel van ’n sportman of -vrou se lewe. Dit maak nie saak hoe hard en vir hoe lank jy al oefen nie. Die druk van ’n wedstryd en goeie opponente veroorsaak dat jy foute gaan maak.

Die geheim in sport is om jou foute te erken en eerlik te raak daaromtrent. Kry iemand wat jou kan help, selfs al beteken dit dat jy aan jou tegniek moet skaaf of dit moet verander. Leer uit jou foute en verseker so dat foute jou help om te verbeter. ’n Fout is nie gelyk aan mislukking nie. Nee, ’n fout wat reg hanteer word, kan juis ’n oomblik van groei en verbetering in jou sport beteken.

Neil Gaiman het die volgende gesê oor die foute wat ons maak: Ek hoop dat jy in die komende jaar foute sal maak. Want as jy foute maak, maak jy nuwe dinge, probeer nuwe dinge, leer, leef, druk jouself, verander jouself, verander jou wêreld. Jy doen dinge wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie, en belangriker nog, jy doen iets.

In die geestelike lewe is daar twee baie belangrike woorde wat die verskil maak: VERGEWE en GENADE. Die krag en waarheid van hierdie twee woorde word heeltemal onderskat. Geen mens verstaan die krag en waarheid van hierdie woorde ten volle nie. Ek wens ek het. Dan sou my eie kop dalk minder geraas het en ek baie meer ware vryheid, die vryheid waaroor Paulus skryf, ervaar en geken het. 

Weet jy is vergewe! Jy is vrygespreek en dit is verlede tyd. Dis afgehandel, verby en jy is dus vrygespreek van al jou sondes van jou verlede en jou toekoms. Ja, dit klink onwerklik, maar dit is hoe dit is. Dis hoekom VERGEWE en GENADE sulke spesiale woorde is. Hou aan nee sê vir sonde. Hou aan om weg te vlug van sonde. Dit veroorsaak net skuldgevoelens en dis nie die ware vryheid in Christus wat jou hemelse Vader wil hê jy moet ervaar en mee leef nie.

Jy is vrygespreek van alle onreg en God vra dat jy dieselfde sal doen teenoor ander.

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Wedstryd Van Die Lewe

Die lewe en sport het baie raakpunte. Dit vra harde werk, oefening en toewyding om ’n wenner in sport te wees – en so ook in die lewe. Maak God die “afrigter” van jou lewe. Doen die spel van die lewe saam met God in sy span – dit maak jou ’n wenner! Hierdie leesplan is saamgestel uit WEDSTRYD VAN DIE LEWE deur Johan Smith en Jan Willem Swanepoel.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://www.cumbooks.co.za