Wedstryd Van Die LeweVoorbeeld
Wat sê sewes-rugbyafrigter Neil Powell oor die waarde van ’n afrigter
Ek is ’n afrigter omdat ek nog altyd ’n passie vir jongmanne gehad het, en ek het ’n behoefte gehad om ’n verskil in jongmanne en seuns se lewens te maak. Daardie passie het gegroei saam met die passie vir rugby. Op ’n stadium het ek besef rugby is ’n lieflike platform vir my om waardes in die jongmanne van vandag in te bou. Cassie Carstens se boek The world needs a father verduidelik dat daar ’n baie groot behoefte na ’n pa-figuur in jongmanne se lewens is. Dit was my passie om hierdie rol te vervul en waardes te vestig wat ewigheidswaarde het – selfs ná hulle rugbyloopbaan moet elke speler daardie waardes uitdra. Hy moet ’n goeie pa wees, ’n goeie man vir sy vrou; hy moet ’n goeie werknemer of werkgewer wees. En as ’n mens daardie waardes in hulle kan inbou, is jy na my mening suksesvol as afrigter. My afrigtingsfilosofie is: “As ek jou ’n beter speler maak, maar ek maak jou nie ’n beter mens nie, misluk ek as afrigter en mentor.”
Dit is belangrik om lewens- of geestelike afrigters en mentors te hê. Die sportprestasies is belangrik, en dit kan moeilik wees om ’n balans te handhaaf tussen dit wat ewigheidswaarde het en jou aardse sukses. Dis iets waarmee ’n mens baie kan sukkel as afrigter. ’n Mentor kan ’n mens op die regte pad help hou.
Ek dink die Heilige Gees is die perfekte afrigter wat vir jou die perfekte plan het. Ons luister nie altyd na die perfekte plan wat Hy vir ons het nie. Ons moet genoeg tyd in God se Woord deurbring en in God se teenwoordigheid wees om die perfekte plan van jou perfekte Afrigter te kan hoor.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe en sport het baie raakpunte. Dit vra harde werk, oefening en toewyding om ’n wenner in sport te wees – en so ook in die lewe. Maak God die “afrigter” van jou lewe. Doen die spel van die lewe saam met God in sy span – dit maak jou ’n wenner! Hierdie leesplan is saamgestel uit WEDSTRYD VAN DIE LEWE deur Johan Smith en Jan Willem Swanepoel.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za