Wedstryd Van Die LeweVoorbeeld
Wat sê Louzanne Coetzee oor die spanne waarin ons is ...
Louzanne is blind en hou die wêreldrekord vir die 5 000 m in Para-Atletiek. Volgens Louzanne is eienskappe van spelers in ’n span die volgende: Spanmaats moet psigies en emosioneel sterk en stabiel wees om druk en spanning van wedstryde en byeenkomste te kan hanteer. Geduld. Deursettingsvermoë. Uithouvermoë. Positiewe gesindheid in uitdagende of moeilike tye. Geloof in God. Mense wat fisies hulle deel doen en insit om doelwitte te bereik. Dit help ook om as spanmaats op ’n geestelike vlak dieselfde waardes deel.
“In die lewe is daar talle spanne: jou span by die werk, huwelikspan, gesinspan en vele meer. Ek glo lewenspanne moet mekaar ruimte gee om te wees wie jy is. Mense moet mekaar nie probeer onderdruk nie, maar mekaar die geleentheid gee om optimaal as persoon te funksioneer en geduld hê met mekaar en mekaar se foute aanvaar. ’n Lewenspan wat vir my baie beteken het, was my gesin. Ek was vir 12 jaar in Worcester in die skool in die koshuis. Dit het my en my ouers se verhouding glad nie benadeel nie – my ouers het my aanvaar soos ek is en nooit laat voel dat ek gestremd is en nie iets kan doen nie. Daar was onvoorwaardelike liefde in ons gesinspan. Ek is ook deel van ’n ongelooflike kerk – waar ek voel ek behoort. Hulle het my ingeneem en my deel van die span gemaak, laat my praatjies doen en ek is deel van die musiekspan.
“Kies ’n lewenspan wat jou opbou en waarde toevoeg aan jou lewe. Jy moet jouself so gedra dat jy nie net ’n rol moet inneem om in ’n span in te pas nie, maar om jou eie unieke bydrae tot daardie span te maak. Jy moet self ’n impak maak in jou span.
“Ek en die Heilige Gees is in ’n span – Hy lei my en help my. Hy is elkeen van ons se Gids. Dit is soms so moeilik om mooi te hoor of selfs te sien – daarom is dit wonderlik om te weet dat die Heilige Gees ons Gids is en dat Hy ons lei – ons moet net oorgee en op Hom vertrou.”
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe en sport het baie raakpunte. Dit vra harde werk, oefening en toewyding om ’n wenner in sport te wees – en so ook in die lewe. Maak God die “afrigter” van jou lewe. Doen die spel van die lewe saam met God in sy span – dit maak jou ’n wenner! Hierdie leesplan is saamgestel uit WEDSTRYD VAN DIE LEWE deur Johan Smith en Jan Willem Swanepoel.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za