Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele WêreldVoorbeeld
Verhoudings bo tegnologie
Baie ouers is vandag totaal onkundig oor die gebruik, misbruik en oorgebruik van tegnologie in die wêreld. Selfone, TV’s, tablette, rekenaars en ander media het ons lewens oorgeneem in plaas van om dit te verryk. Die toestelle maak ons kinders op groot skaal groot en ons kinders is inderdaad dissipels van die media en tegnologie van ons tyd.
Liewe ouer, dit moet ophou. Dis jou taak en jou verantwoordelikheid. God ag jou hoog en belangrik genoeg om jou kind se mentor te wees. Jy is veronderstel om jou kind te begelei in ’n dissipelskapproses. Dis jou voorreg en verantwoordelikheid. Wees weer die pa en ma wat jou kind nodig het. Gee jou kind die nodige leiding om verhoudings eerste stel en wees ’n daadwerklike voorbeeld hierin. Verhoudings bo tegnologie! Gebruik tegnologie reg en goed as jou dienskneg om jou verhoudingslewe te verbeter. Begelei jou kind in woord en daad.
Paulus skryf juis dat ons met ’n spesifieke doel moet leef. Te veel ouers laat hulle gesinslewe aan die noodlot oor. Te veel ouers is nie doelgerig in die grootmaak van hulle kinders nie. Te veel ouers dink hulle kinders gaan eendag vanself jong manne en vroue met karakter wees. Nee, jy het planne en doelwitte vir amper alles in jou lewe. Kry dit ook in plek vir jou gesin.
In 1 Korintiërs 9:26 skryf Paulus: “Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie” (Bybel in Afrikaans 1983/1992). Uit my jarelange ervaring met jongmense, ouers en gesinne, moet ek sê dat baie ouers in die lug slaan en doelloos sonder ’n plan voortploeter. Dit mag nie meer so wees nie. Ek kom pleit by jou om gehoorsaam te wees en die nodige leiding te gee deur jou voorbeeld en jou optrede.
Ander woorde wat die Bybel gebruik om ons as ouers aan te spoor en leiding te gee hoe ons in ons huise behoort op te tree, is “beywer julle” en “jaag na”. Ek verseker jou die wêreld jaag jou kind na. Ek verseker jou die wêreld is doelbewus besig om jou kind ywerig van God en die gesin te probeer wegrokkel.
Wat gaan jy doen? Wat gaan jou reaksie wees op die oproep vir jou gesin?
Hierdie leesplan is saamgestel uit GESONDE GESINSVERHOUDINGS IN ’N VIRTUELE WÊRELD deur Johan Smith © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Baie ouers is totaal onkundig hoe tegnologie vandag in die wêreld misbruik word. Selfone, TV’s, tablette, rekenaars en ander media het ons lewens oorgeneem, in plaas van kom verryk. Liewe ouer, dit moet ophou! Leer hoe om jou kind te lei, te mentor en vir hulle te wys hoe om tegnologie positief te gebruik. Hierdie leesplan is saamgestel uit GESONDE GESINSVERHOUDINGS IN ’N VIRTUELE WÊRELD deur Johan Smith.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.cumbooks.co.za