Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele WêreldVoorbeeld

Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele Wêreld

DAG 5 VAN 7

Gebruik tegnologie slim om verbintenisse te bevorder

Ons leef in ’n kultuur van onmiddellike bevrediging en ouers moet tegnologie só beheer dat hulle kinders nie al hoe dieper in hierdie slaggat trap nie. Tegnologie is in die eerste plek nie daar om die fokus net nog meer op jouself te plaas nie. Dis daar vir beter verbintenisse en verhoudings. Dis daar om ander op te bou en hulle lewens te verbeter. 

Tegnologie kan baie positief aangewend word. Leer kinders van kleins af dat tegnologie nie net gaan oor vermaak nie. Jou selfoon of tablet word nie nog ’n TV nie. Tegnologie en media gaan nie net oor die myself nie. Nee, die effektiewe gebruik van tegnologie het alles te make met goeie verbintenisse met byvoorbeeld oupa en ouma wat ver van julle bly. Tegnologie moet dus gebruik word op ’n manier wat verhoudings bevorder en nie belemmer nie.

Leer kinders van kleins af om op ander te fokus. Die doel van enige kommunikasie moet wees om ander op te bou en in ander se menswees te belê. Dis dan wanneer jy waarlik verbind en nie net oppervlakkig kommunikeer nie.

Wanneer jy vir jou kind demonstreer hoe om media tot voordeel en opbou van ander te gebruik, gaan jou kind dit self begin doen. Dieselfde geld vir die stuur van SMS’e en WhatsApp-boodskappe. Moet dit nooit gebruik om af te breek of af te kraak nie. 

As jy hierdie baie belangrike kommunikasiebeginsels vir jou kinders leer en demonstreer, sal dit lei tot ’n gesonder gebruik van tegnologie, skerms en media. Dit sal minder gaan oor die likes wat jy van ander mense kry en meer daaroor om ander mense op te bou en hulle lief te hê. Dis fundamentele lewensbeginsels wat jy van kleins af by jou kinders moet ingraveer. Onthou weereens, jou voorbeeld as ouer is baie belangrik.

Natuurlik kan tegnologie ook baie nuttig aangewend word met kinders se kognitiewe ontwikkeling. Maar ouers moet dit altyd sáám met die kind doen, en net vir ’n bepaalde tyd. Ouers en kinders kan saam nuwe dinge leer en ontdek – en let op die woord “saam”. 

Soek mooi en opbouende musiek op YouTube. Kyk dit saam met jou kinders en bou op dié manier aan julle verhouding. Terselfdertyd bou jy jou kinders positief op deur hulle bloot te stel aan die mooi van tegnologie, die mooi wat op die media beskikbaar is. 

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele Wêreld

Baie ouers is totaal onkundig hoe tegnologie vandag in die wêreld misbruik word. Selfone, TV’s, tablette, rekenaars en ander media het ons lewens oorgeneem, in plaas van kom verryk. Liewe ouer, dit moet ophou! Leer hoe om jou kind te lei, te mentor en vir hulle te wys hoe om tegnologie positief te gebruik. Hierdie leesplan is saamgestel uit GESONDE GESINSVERHOUDINGS IN ’N VIRTUELE WÊRELD deur Johan Smith.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  http://www.cumbooks.co.za