Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele WêreldVoorbeeld

Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele Wêreld

DAG 2 VAN 7

Leer weer om te luister

Baie min mense besef dat om te luister in die tyd waarin ons lewe, eintlik ’n kuns geword het. Goeie luisteraars in huisgesinne is skáárs.

Die eerste beginsel om sinvol te luister en enige kwaliteit kommunikasie is: Jy moet stil word om te luister. Daarsonder is geen verbintenis moontlik nie. Daarsonder word daar nie geluister nie. Gevolglik word die werklike boodskap nie gehoor nie of heeltemal verkeerd verstaan. 

Om waarlik te luister, verg dat jy sal stilsit, dat jy ter wille van iemand anders jou lewe tot stilstand sal bring. Dan vra dit dat jy op die persoon sal fokus. Dit vra jou tyd en energie en aandag. Enige vorm van luister, ook in die huisgesin, is dus niks anders as die praktiese uitleef van liefde teenoor iemand anders nie. Luister is om jou geloof prakties uit te leef. 

Jakobus raak baie prakties en klim eintlik in die detail van om te luister: Luister rustig, moenie die persoon onderbreek nie, luister onbevange, luister en moenie te gou antwoord nie. Dis belangrik om nét te luister en nie altyd antwoorde of raad te probeer gee nie. Dis belangrik om te luister sonder om die ander persoon te onderbreek. Luister om werklik te hoor. Luister om werklik te verstaan. Wees so gefokus dat jy emosies ook “hoor” en dat jy na die persoon se hart luister. Baie keer wil iemand net voel dat iemand hoor wat hulle sê. Antwoorde, reaksie of raad is dalk nie nodig nie. Jou tasbare daad van liefde, naamlik om te luister, is dalk genoeg.

’n Ander goue geheim as dit by luister kom, is om die persoon toe te laat om klaar te praat. Vra dan eers vrae wat wys dat jy opreg belangstel. Maak seker dat jy reg verstaan het, en vra relevante vrae. Vra vrae wat die persoon verder aan die praat sit sodat jy nog meer van die hart en emosies kan “hoor”. As jy aktief, belangstellend en deelnemend luister, sal jy ook in staat wees om die persoon se liggaamstaal te “hoor”. Dit sal jou baie help om die hele prentjie beter te verstaan. As jy op so ’n manier luister, sal dit soveel makliker wees om ’n verbintenis te maak.

As jy ernstig daaroor is om met jou kind te verbind, om in verbinding met jou gesin te wees, begin met die praktyk van luister soos Jakobus dit vir ons beskryf in Jakobus 1:19.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele Wêreld

Baie ouers is totaal onkundig hoe tegnologie vandag in die wêreld misbruik word. Selfone, TV’s, tablette, rekenaars en ander media het ons lewens oorgeneem, in plaas van kom verryk. Liewe ouer, dit moet ophou! Leer hoe om jou kind te lei, te mentor en vir hulle te wys hoe om tegnologie positief te gebruik. Hierdie leesplan is saamgestel uit GESONDE GESINSVERHOUDINGS IN ’N VIRTUELE WÊRELD deur Johan Smith.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  http://www.cumbooks.co.za