Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele WêreldVoorbeeld

Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele Wêreld

DAG 6 VAN 7

Met die klem op saam

Ons weet goed dat dit vir 'n gesin belangrik is om dinge saam doen, selfs al is dit iets wat nie almal noodwendig sou wou doen nie. 

Almal weet dat kinders uit dieselfde gesin soms só van mekaar kan verskil dat dit soms moeilik is om te glo dat hulle dieselfde ouers het. En dit is een van die redes hoekom dit soms so moeilik is om dinge sáám te doen. Onthou egter dat sáám altyd aanleiding gee tot beter verbintenisse tussen gesinslede. Dus, pa en ma, dit gaan dalk harde werk verg en baie uitdagings inhou, maar dink aan maniere hoe julle die "sáám" verder kan stimuleer. 

Daar is sekere goed waarin jy vir jou kinders ’n voorbeeld kan en moet stel, soos ’n gesonde leefstyl. Dit is belangrik vir elke gesinslid. Dit maak nie saak of jou kind ’n kultuurdier of ’n sporttier is nie – gesond leef is vir almal belangrik. Daarom moet almal op die een of ander manier oefen. Jy het dalk ’n A-span-in-alles-kind op die sportveld wat vir oefening leef, maar dalk is jou superster-kultuurwenner baie meer passief. Dit voel soos twee uiteenlopende wêrelde. Dit is egter belangrik dat almal, ook pa en ma, gereeld een of ander vorm van oefening inkry.

’n Ander belangrike ding om te doen is om as ’n reël gesond te eet. Die gedagte is nie om ’n slaaf van die slaaiblaar te word nie, want lekker eet is darem net baie lekker. Gesond eet is net beter – en eintlik regtig die heel beste. Leer jou kinders die waarde van slaai en groente. Leer hulle die gevare van gaskoeldrank en ander ongesonde kosse. Laat hulle eienaarskap aanvaar van hulle liggame en die tempel wat die Here vir hulle gegee het, mooi oppas. Natuurlik gaan ’n lekker sjokolade en roomys deel wees en bly van die gesin se sáámkuier soos lag en gesels. Gesond is nie veronderstel om ’n straf te wees nie. Dis hoekom oefen so belangrik is. Die kombinasie van gesond eet en gereeld oefen, is wen-aktiwiteite vir elke gesin. 

Dis dinge wat sáám gedoen kan word en wat kan help om vir jou kind ’n wonderlike, gesonde en kwaliteit leefstyl aan te leer.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele Wêreld

Baie ouers is totaal onkundig hoe tegnologie vandag in die wêreld misbruik word. Selfone, TV’s, tablette, rekenaars en ander media het ons lewens oorgeneem, in plaas van kom verryk. Liewe ouer, dit moet ophou! Leer hoe om jou kind te lei, te mentor en vir hulle te wys hoe om tegnologie positief te gebruik. Hierdie leesplan is saamgestel uit GESONDE GESINSVERHOUDINGS IN ’N VIRTUELE WÊRELD deur Johan Smith.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  http://www.cumbooks.co.za