Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele WêreldVoorbeeld

Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele Wêreld

DAG 3 VAN 7

Om die etenstafel

Dis vir my ’n baie belangrike saak, en ek sê dit eerlik en opreg vir ouers: Vandag staan die tafel lynreg teenoor tegnologie. Waar gesinsverhoudings om die tafel gesmee word, breek tegnologie gesinsverhoudings teen rekordspoed af. Daar is verwoestingswerk aan die gang wat slegs deur verantwoordelike ouers gestuit kan word.

Almal ken die verhaal van Noag. Dis duidelik uit die Hebreërs 11:7 en Genesis 7:1 dat die hoofrede vir die bou van die ark, ’n veilige spasie, die redding van Noag se gesin was. God gee vir die ouer die opdrag om ’n plek te skep vir sy gesin. Die ark was dit vir Noag se gesin! Vandag is die wêreld soos die stormwater in Noag se tyd. Dit verswelg ons jongmense. Hulle smag na ’n veilige plek met veilige verhoudings. Die wêreld is nie ’n jeug-vriendelike plek nie. Dis vol seks, geweld en dekadensie. Baie van ons jongmense gryp na dié dinge en ongesonde verhoudings, want hulle gesinne bied nie vir hulle ’n veilige hawe nie. In Noag se tyd was jy óf veilig op die ark óf in die water van die wêreld, besig om te verdrink of reeds dood. Soveel jongmense kies vandag om stadig maar seker te verdrink in die stormwater van seksuele verhoudings, verkeerde vriende, drank, dwelms en pornografie. Dis vir hulle beter as om hulself op die “ark” te bevind waar daar in elk geval geen verhoudings is nie. 

Vandag is jongmense verhoudingshonger. Hulle kom al hoe meer agter dat die baie vriende op Facebook en ander sosiale media nie die behoefte aan kwaliteit verhoudings vervul nie. Hulle kom al hoe meer agter hoe oppervlakkig hierdie verhouding is en verlang al hoe meer na diep, intieme en innige gesinsverhoudings. Hulle wil dieper met mense kontak maak — en dit begin by hulle pa en ma. 

Hoe en waar gaan die harte verbind? Hoe en waar gaan die omgee plaasvind? Die antwoord is eenvoudig. Dis net om die besluit te neem en te kies om as ’n gesin te verbind. Dis eenvoudig om gesinsverhoudings eerste te stel en om terug te keer na die etenstafel.

Andy Stanley het gesê die doel van aandete saam om ’n tafel is om saam te kuier en lekker te gesels. So skep ouers ’n veilige spasie, ’n veilige plek waar gesonde gesinsverhoudings gebou kan word. Dis binne hierdie diep, kwaliteit gesinsverhoudings waar kinders vandag veilig voel.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele Wêreld

Baie ouers is totaal onkundig hoe tegnologie vandag in die wêreld misbruik word. Selfone, TV’s, tablette, rekenaars en ander media het ons lewens oorgeneem, in plaas van kom verryk. Liewe ouer, dit moet ophou! Leer hoe om jou kind te lei, te mentor en vir hulle te wys hoe om tegnologie positief te gebruik. Hierdie leesplan is saamgestel uit GESONDE GESINSVERHOUDINGS IN ’N VIRTUELE WÊRELD deur Johan Smith.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  http://www.cumbooks.co.za