Gesonde Gesinsverhoudings In ’N Virtuele WêreldVoorbeeld
Tegnologie-vas
Jy ken sekerlik die konsep van “vas”: om jou tydelik van iets te ontsê, soos kos, sjokolade, koeldrank of koffie. Baie mense doen dit in die lydenstyd van Jesus. Ander doen dit weer as hulle God se wysheid en aangesig soek vir een of ander baie belangrike saak. ’n Tegnologie-vas is dus ’n tydelike onthouding van tegnologie vir ’n ander baie belangrike saak, naamlik beter verbintenisse in gesinne, beter kommunikasie in gesinne en beter en dieper verhoudings in gesinne.
As julle as gesin hegte bande wil smee en werklik verbind wil wees, is dit nodig dat meer ouers drastiese stappe moet neem. Buiten dat kinders nie toegelaat behoort te word om tegnologiese toestelle in hulle slaapkamers te hê nie, is dit ’n goeie idee om elke aand vir twee of drie uur ’n tegnologie-mandjie in te stel. Almal se selfone en tablette word dan vir hierdie tyd in die mandjie gesit. Gebruik sommer die tyd om die toestelle te herlaai. Dis kosbare tyd waar heerlik saam geëet en gekuier kan word. Dis tyd vir lag, gesels en diep gesprekke om die tafel; tyd vir harte met mekaar deel en saam speel: bordspeletjies of enige ander speletjie.
Dit gaan nie vir almal ewe maklik wees nie, veral nie vir die jongmense wat met tegnologiese toestelle grootgeword het nie. Die feit dat dit vir hulle moeilik gaan wees, dui ongelukkig reeds op die vlak van verslawing aan tegnologie wat in mense se lewens, jonk en oud, aanwesig is. As ’n kind van kleins af verstaan dat tegnologie – wanneer dit reg gebruik word – ’n baie handige hulpmiddel kan wees, behoort dit die kans op verslawing te verminder.
Ouers moet besef dat húlle beheer het oor die gebruik van die internet of die WiFi-toegang in hulle huis. Die reël moet doodgewoon wees dat dit slegs gebruik word as ma of pa toestemming gee. Natuurlik het kinders op skool internettoegang nodig vir hulle huiswerk en ander opdragte. Dit moet egter beheerde toegang bly en – weereens – op ’n plek waar almal in die gesin kan sien wat aangaan, nie in ’n slaapkamer nie.
Kinders moet van jongs af geleer word: Verhoudings kom altyd eerste. En verhoudings beteken interaksie, kyk mekaar in die oë en gesels met mekaar. Dis nie oppervlakkige e-posse en teksboodskappe nie. Niks kan een-tot-een-kommunikasie en verhoudings vervang nie. Daar is geen plaasvervanger daarvoor nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Baie ouers is totaal onkundig hoe tegnologie vandag in die wêreld misbruik word. Selfone, TV’s, tablette, rekenaars en ander media het ons lewens oorgeneem, in plaas van kom verryk. Liewe ouer, dit moet ophou! Leer hoe om jou kind te lei, te mentor en vir hulle te wys hoe om tegnologie positief te gebruik. Hierdie leesplan is saamgestel uit GESONDE GESINSVERHOUDINGS IN ’N VIRTUELE WÊRELD deur Johan Smith.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.cumbooks.co.za