Om Soos Jesus Lief te HêVoorbeeld

Love Like Jesus

DAG 7 VAN 13

Wag In die Ry by die Bank

Ek was nog altyd verward oor sosiale status. Waarom verhef ons sommige mense maar ander nie? Daar kan baie faktore wees wat 'n persoon se plek op die sosiale leer beïnvloed: roem, rykdom, vermoëns, skoonheid, persoonlikheid, titel, erfenis, ens.

Dit was moontlik gedurende hoërskool wat ek die eerste maal die verskeie vlakke van gewildheid opgemerk het, maar in my volwasse lewe merk ek nog steeds op dat sommige mense meer gewild is as ander. Ons klassifiseer onsself ook, deur sommige eerste te plaas en ander laaste.

In die eerste jaar nadat ek na 'n groot stad verhuis het, het ek in my dwaasheid die fout gemaak om 'n OTM op 'n Saterdag te besoek. Op pad na 'n afspraak, waar ek gehoop het om te beïndruk, het ek my plek geneem in 'n lang ry van ongeduldige mense wat kontant vir hulle naweek nodig gehad het. Diep in gedagte, het ek nie dadelik die groeiende opskudding opgemerk wat aan die voorpunt van die ry met ten minste agt mense begin het nie. 'n Snik en 'n vloekwoord het wel my aandag getrek, en ek het bewus geword van 'n vrou met toutjies hare, wat gesukkel het om haar emosies onder beheer te hou en haar transaksie te voltooi. Ek het na die vrou gestaar, en het na die mense in die ry voor en agter my gekyk. Almal het oogkontak vermy, en het beleefd (of net eenvoudig ongeduldig) die vrou in krisis geïgnoreer. Die vrou het haar transaksie gekanselleer, en toe na ons almal gedraai en gesê: "My pa is so pas oorlede." Dit was nie soseer 'n verskoning nie, eerder 'n verduideliking. Toe sy geen reaksie kry nie, het sy omgedraai, steeds in trane en na die parkeerterrein geloop. Ek het rondgekyk omdat ek gedink het iemand moet regtig iets doen om te help. Tot my afgryse, het ek besef dat die rede hoekom ek in die ry bly staan het, was omdat ek nie my plek wou verloor nie.

Hoe dikwels dink ons dat ons eie planne belangriker is as om mense lief te hê soos wat Jesus ons roep om te doen? Hoe gereeld ignoreer ons dié wat vir Christus kosbaar is omdat ons hulle waarde oppervlakkig ag? Op daardie oomblik by die OTM het ek iewers gehad waar ek moes wees en daar het iemand gewag wat ek wou beïndruk. Hierdie vrou was niemand vir my nie, en ek het in selfsug gevoel dat ek geen tyd gehad het om aan haar af te staan nie. Christus roep ons egter nie om Hom te dien net wanneer dit geleë is nie. Hy vra ons nie om net die mense te bedien wat ons dink ons aandag werd is nie. Hy sal ons prioriteite onderstebo keer — van die joolkoningin tot die pornografie ster, of die verslaafde tot die atleet — en verklaar dat die eerste laaste sal wees, en die laaste eerste, ten spyte van ons oppervlakkige etikettering.

Die treurende vrou was nou besig om met 'n gesukkel haar motor oop te sluit en ek het na haar toe gehardloop. Sy het my prioriteit geword terwyl my hart vol empatie vir haar was. Toe sy my verbaas aankyk, het ek opreg gesê: "Ek is so jammer vir jou verlies." Haar gesig het weer vertrek en sy het gesnik terwyl ek haar vasgedruk het. Sy het na 'n minuut bedaar en het my stilletjies bedank voor sy in haar motor geklim en weggery het. Ek het teruggedraai na die OTM waar die skare mense hulself besig gehou het met hul selfone, aktief besig om my te ignoreer.

Ek het my plek agter in die ry gaan inneem.

Beth Castle
Life.Church Kreatiewe Mediaspan (Eggenoot)

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Love Like Jesus

Hoe kan ons leer om soos Jesus te leef as ons nie eerstens soos Hy liefhet nie? Lees saam met Life.Church personeel en huweliksmaats terwyl hulle die ondervindinge en Skrifgedeeltes deel wat hulle inspireer om voluit te leef en Soos Jesus Lief te Hê.

More

Baie dankie aan Life.Church vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: www.life.church