Verwag GodVoorbeeld
Ek het 'n droom gehad waarin Jesus sing: "Kom dans saam met my." Ek het daarop gereageer deur eenvoudig te sê: "Ek sal saam met U dans Here, maar ek weet nie regtig wat U bedoel nie." Toe ek wakker word, het die melodie en woorde nog in my ore weerklink.
Ek het oor die droom nagedink en Skrifverse oor dans gesoek. Daar is baie Skrifgedeeltes wat na oorwinnings- of oorlogsdanse verwys, maar die melodie wat Hy gesing het, was vir my anders. Dit het my nader gewink op 'n gesaghebbende, dog liefdevolle manier.
God, Abba Vader, bring toe 'n prentjie in my gedagtes op van 'n dogtertjie wat op haar pappa se voete staan terwyl hy haar in 'n dans begelei. Ek glo dis wat God vir my probeer sê het. Ek hoef nie die danspassies te ken as ek op sy voete staan nie. Ek moet net gewillig wees om saam met Hom te dans, om Hom te vertrou en Hom toe te laat om die leiding te neem.
Ek het dus op die spykerdeurboorde voete geklim, sodat die dans kon begin. Met elke treetjie het ek meer vryheid, groter liefde en dieper vertroue bygekry. My lewensdans is vervolmaak deur op my Koning se voete te staan, die ritme te leer en die liedere te hoor wat Hy oor my lewe gesing het.
Dit maak nie saak waar ons onsself in die lewe bevind nie, of ons die passies dalk vergeet het, of miskien nooit eens geken het nie. Die dans kan vandag begin. Jy kan die hemelse lied vir jou lewe hoor. God wag om met jou te dans. Tree vir tree sal Hy jou leer om te vertrou, sal Hy jou leer om Hom toe te laat om jou te lei en sal Hy jou leer om die hemel se hartklop te hoor en saam te dans.
"Kom dans saam met My
Staan op my voete, Laat my toe om jou te lei
Tree vir tree, Op die maat
Na jou bestemming, dans met My."
God het my geroep om verder te gaan as net te glo en om Hom ten volle te vertrou. Die vertaling van die woord "vertrou" in die Bybel, beteken letterlik "'n dapper, selfversekerde, besliste sekuriteit of optrede, gebaseer op daardie sekuriteit." Om te vertrou, is nie dieselfde as om geloof te hê of te glo nie. Inteendeel, vertroue spruit juis voort weens ons geloof. Om te vertrou, is om in God se beloftes in alle omstandighede te glo, veral wanneer dit lyk of die bewyse die teendeel sê.
Vertrou op die Een wat 'n pragtige verhaal vir jou lewe geskryf het, wat beplan om jou voorspoedig te maak, om vir jou hoop en 'n toekoms te gee.
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe is vol onverwagte reise, beide goed en sleg. Al is dit in die goeie tye maklik om God te sien, kan dit uitdagend wees om te midde van tragedie en onmoontlike omstandighede aan hoop vas te hou. Word bemagtig om te bly glo in die Een wat die onmoontlike doen. Wanneer jy 'n ontmoeting met God in jou donkerste uur verwag, sal Hy met bonatuurlike antwoorde verlossing bring van dit wat hopeloos lyk!
More