Verwag GodVoorbeeld

Expect God

DAG 2 VAN 7

 

Een nag het ek God in 'n droom vir my hoor vra: "Onthou jy die eerste keer wat Ek jou gedra het?" Toe ek wakker word, was die droom nog so duidelik asof God se stem nog hoorbaar in my ore weerklink het. Ek het die eerste keer wat God my gedra het, probeer onthou. 

My gedagtes het teruggegaan na die eerste keer wat ek 'n miskraam gehad het. Dit was ook die eerste keer dat ek myself werklik in 'n omstandigheid bevind het waar ek nie geweet het wat om te doen nie. Dit was die eerste keer wat my geloof op 'n baie werklike, tasbare en hartverskeurende wyse beproef is.  

Om gedra te word, beteken om bo die grond vasgehou en ondersteun te word terwyl jy beweeg. Jy staan nie stil wanneer jy jou kind dra nie, dit sou bloot vashou wees. Inteendeel, jy beweeg êrens heen met jou kind. Dalk dra jy hom omdat hy moeg is, of omdat jy vinniger êrens moet uitkom, of dalk probeer jy net om dinge makliker te maak. 

Toe God my deur daardie eerste miskraam gedra het, het Hy my na 'n nuwe plek in Hom gedra. Hy het my na 'n ander vlak geneem. Wanneer jy iemand optel om te dra, bring jy hom mos na 'n hoër vlak toe. Hoër vlakke gee ook 'n ander perspektief. Dink aan 'n kind wat op haar pa se skouers opgetel word om beter te kan sien; dit bring 'n nuwe perspektief.

Ek het begin besef dat Hy my nog ALTYD gedra het. Soms moes Hy my wieg en versigtig loop, terwyl ek in sy arms huil. Soms moes Hy my met 'n ferm greep dra, sodat ek nie omdraai en weghardloop nie. Ander kere het Hy my weer gedra toe ek dit nie verdien het nie. Hy het my sommer net gedra, omdat Hy my liefhet.

Die eerste keer wat Hy my gedra het, was nie met my eerste miskraam nie. Die eerste keer wat Hy my gedra het, is toe ek gebore is. Daar was nog nooit 'n dag wat Hy my nie gedra het nie! Daar was nog nooit 'n dag wat Hy nie my kinders gedra het nie! Ook was daar nog nooit 'n dag wat Hy jou nie gedra het nie!

Hy hou ons vas terwyl ons beweeg.

Ek weet nie wat God agter die skerms doen nie, maar Hy het my verseker dat dinge beweeg. Dit is so besonders om te weet jy is in die sterk arms van Iemand wat jou liefhet. Hy weet net wat en wanneer om die dinge te sê wat ek moet hoor. 

Wees vol vertroue in die wete dat Hy jou dra!

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Expect God

Die lewe is vol onverwagte reise, beide goed en sleg. Al is dit in die goeie tye maklik om God te sien, kan dit uitdagend wees om te midde van tragedie en onmoontlike omstandighede aan hoop vas te hou. Word bemagtig om te bly glo in die Een wat die onmoontlike doen. Wanneer jy 'n ontmoeting met God in jou donkerste uur verwag, sal Hy met bonatuurlike antwoorde verlossing bring van dit wat hopeloos lyk!

More

Ons wil graag vir Rachel Shafer Ministeries bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Besoek hulle vir verdere inligting by http://www.rachelshafer.com