Onvolmaakte OuerskapVoorbeeld
Laat Vaar
Ons kan hoop en inspirasie kry by ouers wat ons vooruitgegaan het. Ons kan by hulle hoop en bemoediging kry wanneer die pad moeilik raak. Wanneer ons op die punt kom waar ons voel ons kan nie meer nie, dan sê ons hemelse Vader vir ons: “... My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is ...” (2 Korintiërs 12:9). Wanneer jy dus op jou swakste is, werk God se krag die beste.
Een van die moeilikste tydperke van ouerskap, is net vóór en gedurende jou kinders se tienerjare. Dit is in hierdie tydperk wanneer ons veranderinge in hulle houdings opmerk en wanneer hulle van ons as ouers begin onttrek. Dit is tog presies wat moet gebeur sodat hulle gesonde, verantwoordelike en onafhanklike volwassenes kan word. Wat kan ons daaromtrent doen? Aanvaar dit.
Laat hulle toe om self te kies en lei hulle om te verstaan dat keuses nagevolge het wat hulle sal moet dra. As jou 10-jarige al sy sakgeld op lekkernye wil spandeer en dan geen sakgeld vir die res van die week oor het nie, laat hom begaan. Dit gaan nie op die lang duur 'n verskil maak nie, maar dit gaan hom 'n les leer.
Laat hulle vrae vra oor hulle geloof. Alle kinders het vrae. Hulle vra omdat hulle antwoorde wil hê. Moenie bang wees om te sê: “Ek weet nie.” Moet ook nie bang wees om te gaan uitvind nie. Jy moet hoofsaaklik net luister. Onthou, ons probeer ons kinders leer ken en verstaan wat in hulle gedagtes aangaan en hoekom hulle op sekere maniere optree.
Laat hulle toe om te misluk en lesse te leer. Dit is een van die uitdagendste take vir ouers. Ons het lewensondervinding en kan sien wat die gevolge van dade gaan wees, maar hoe anders gaan hulle leer as jy hulle die heeltyd voorsê? Miskien vereis hul vakansiewerk dat hulle reeds om 6:00 daar moet wees. 'n Paar oggende wat hulle verslaap en die nagevolge moet dra, sal vir hulle 'n waardevolle lewensles leer.
Om te laat vaar, beteken nie jy gee moed op nie, dit beteken ook nie dat jy nooit ingryp nie. Daar is 'n tyd en plek daarvoor, selfs in die lewens van ons volwasse kinders. Voor jy ingryp, vra jouself:“Is die moontlike uiteinde hiervan iets wat moeilik gaan wees om te oorkom?” As die antwoord nee is, hou jou opinie vir jouself. As die antwoord ja is, wys jou kind se versoek af, of praat met jou volwasse kind op 'n respekvolle wyse.
Die slotsom is dat ons, van die oomblik wanneer ons ouers word, moet leer om te laat vaar. Dit is 'n proses. Dit druis in teen alles ín ons, want ons wil ons kinders beskerm en van swaarkry bewaar. Tog moet ons leuse as ouers wees: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Filippense 4:13). Dit is dikwels die stryd wat 'n wonderlike uitkoms teweegbring — in ons en in ons kinders.
Aangaande hierdie leesplan
Die druk wat ons op onsself plaas om perfekte ouers te wees is genoeg om vir ons slapelose nagte te gee. Ons dink ons moet die beste ouers wees en dit maak ons angstig om te dink ons kan moontlik ons kinders se ondergang beteken. Gelukkig is God ons hemelse Vader en Hy sal ons lei hoe om hier op aarde ouers te wees. In hierdie 6-dag leesplan, gaan ons waardevolle aspekte behandel wat ons as ouers kan implementeer.
More