Onvolmaakte OuerskapVoorbeeld
Stel Verhouding Heel Eerste
Die apostel Paulus skryf in Romeine 3:23: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.” Dit beteken dat almal, insluitend ons kinders, foute gaan maak. Soms sal hierdie foute ernstige nagevolge hê en soms nie. Al is dit ons rol as ouers om opdragte te gee en ons kinders te lei wanneer hulle misluk, moet ons verhouding met hulle eerste kom. Dink na oor die volgende paar dinge terwyl jy leer om verhoudings jou prioriteit te maak:
Moenie vergeet nie
Dis nogal moeilik om verby die foute van die verlede en die sondige keuses van ons kinders te kyk. Ons kan so mismoedig raak oor hulle sondige dade, dat ons heeltemal vergeet dat ons ook kinders was. Onthou jy nog daardie benoude oomblikke toe jy gewag het vir jou ma of pa om huis toe te kom? Kom ons probeer hard om empatie met ons kinders te hê. Kom ons vergewe hulle net soos God ons in Christus vergewe het (Efesiërs 4:32). Hulle maak meestal nie met opset foute nie. Hulle probeer maar net — soos ons almal — om hul eie toestand van mensheid te hanteer.
Laat die langtermyn doelwit julle lei
Die meeste gesinne het reëls oor hoe om hulle kinders veilig te hou en te help om lewensbesluite te neem. Sommige reëls is veronderstel om altyd daar te wees omdat hulle waardevol is, maar ander moet slegs vir 'n tydperk geld. Partykeer is dit die streng, onbuigbare reëls wat aanleiding gee tot opstandige gedrag. Dit is in sulke tye wanneer ons onsself moet afvra: “Is hierdie reël nodig?” Dit is moeilik vir ouers om reëls te “verslap”, want óf hulle is te trots, óf hulle is bang dat hulle kinders gaan dink hulle is te inskiklik. Ons moet egter deur ons onsekerheid werk en doen wat nodig is om ons toekomstige verhouding met ons kinders te verseker.
Dit gaan nie oor jou nie
Dit is van kardinale belang dat ons hierdie aspek van ouerskap verstaan, so moeilik soos dit ook al mag wees. Wanneer ons kinders foute maak, gaan dit nie oor ons nie. Dit is 'n uitdaging vir ouers om nie hul kinders se foute persoonlik op te neem nie. Op 'n manier voel ons asof hulle probeer om ons lewens omver te werp, maar dis nie die geval nie. Soos hierbo genoem, probeer hulle net hul eie mensheid hanteer. Ons moet hulle nie laat skuldig voel nie. Hulle het ouers nodig wat verstaan dat hulle probeer ontrafel hoe om in 'n wêreld te lewe wat nie vir hulle omgee of oor hulle behoeftes besorg is nie.
Ons moet probeer onthou hoe dit was om 'n kind te wees. Kom ons wees die ouers wat ons kinders aanmoedig om, net soos ons, “... met vrymoedigheid na die genadetroon ..." te gaan, "... sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word" (Hebreërs 4:16). Ons kinders probeer grootmense word en om foute te maak, is deel daarvan. Wanneer ons kinders hartseer en mismoedig voel, moet ons onthou dat 'n verhouding met hulle die belangrikste oorweging moet wees.
Aangaande hierdie leesplan
Die druk wat ons op onsself plaas om perfekte ouers te wees is genoeg om vir ons slapelose nagte te gee. Ons dink ons moet die beste ouers wees en dit maak ons angstig om te dink ons kan moontlik ons kinders se ondergang beteken. Gelukkig is God ons hemelse Vader en Hy sal ons lei hoe om hier op aarde ouers te wees. In hierdie 6-dag leesplan, gaan ons waardevolle aspekte behandel wat ons as ouers kan implementeer.
More