Onvolmaakte OuerskapVoorbeeld

Imperfect Parenting

DAG 1 VAN 6

Die Volmaakte Ouer 

Ouerskap. Almal het ondervinding hiervan, want ons almal is iemand se kind. Sommige van ons het goeie ondervindings met ons ouers gehad, terwyl ander seer en pyn moes verduur. Ongeag of jy ‘n positiewe uitkyk oor ouerskap het, of bang is dat jy 'n gemors daarvan sal maak, daar is goeie nuus: ouerskap en volmaaktheid gaan nie hand-aan-hand nie. Selfs beter nuus is dat daar net Een is wat ouerskap kon vervolmaak, en Hy staan reg om ons te lei. 

In die Bybel word daar op baie maniere na God verwys. Hy bly egter dieselfde God wat net verskillende rolle aanneem. Amper net soos ons vriende, familie en kollegas vir ander is, is God Skepper, Voorsiener en Vader. As gevolg van wat Jesus vir ons gedoen het, word ons kinders van God genoem. Om die waarheid te sê, ons is sy mede-erfgename!

Daar is geen manier om 'n lys te maak van alles wat God doen en wie Hy is nie, maar hier volg 'n paar maniere waarop God 'n Vader vir ons is: 

Hy het ons lief
God se vaderliefde vir ons is so groot dat Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het as versoening vir die sondes wat ons gepleeg het. Ons kan Hom dank vir so 'n ongelooflike daad van liefde, deur Hom heelhartig te volg en te poog om ander ruimhartig lief te hê (1 Johannes 4:9-11).

Hy tug ons
Niemand hou daarvan om gedissiplineer te word nie, want dit maak seer. As ons dit egter aanvaar, sal ons 'n beter weergawe van onsself word. Dikwels bring dit van die grootste deurbrake in ons lewens mee (Hebreërs 12:7-8;11).

Hy voorsien in ons behoeftes
Ons hemelse Vader het belowe om in ons behoeftes te voorsien. Ons hoef nie te wonder oor hoe Hy dit gaan doen nie — Hy sê net dat Hy sal sorg! Kom ons beywer ons allereers vir die koninkryk sonder om ons oor al die ander goed te bekommer (Matteus 6:25-34).

Hy vergewe ons 
Ons dink dalk soms dat ons sondes te groot is vir God om te vergewe. Miskien voel jy ver van God af en weet nie wat om te doen nie. Daar is goeie nuus: Hy is altyd getrou om ons sondes te vergewe as ons dit teenoor Hom bely (Psalm 103:9-12; 1 Johannes 1:9).

Hy berei 'n woonplek vir ons voor
God het 'n erfdeel vir ons. Die hemelse erfenis is vir ewig, nie soos aardse geld en besittings wat opraak nie. Daar word vir ons 'n plek voorberei vir wanneer Jesus terugkeer om ons te kom haal (Johannes 14:1-4).

Laat dit as maatstaf dien waarvolgens ons ons eie kinders opvoed. Oordink hierdie waarhede oor God as ons Vader, en identifiseer op watter terreine jy as 'n ouer behoort te groei. Is ons liefde vir ons kinders van hulle dade afhanklik? Probeer ons om 'n vriend te wees en laat dan na om hulle te tug? Weier ons om hulle herhaaldelik te vergewe?

Ons gaan nie alles regkry nie, maar net omdat ons onvolmaakte ouers is, beteken dit nie ons moet nie daarna streef om ons beste te gee nie. Oor die volgende vyf dae van hierdie leesplan, sal ons sommige van die belangrikste aspekte aanspreek wat ons in ons verhoudings met ons kinders kan implementeer om hulle te help om gesonde, verantwoordelike en onafhanklike volwassenes te word. 

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Imperfect Parenting

Die druk wat ons op onsself plaas om perfekte ouers te wees is genoeg om vir ons slapelose nagte te gee. Ons dink ons moet die beste ouers wees en dit maak ons angstig om te dink ons kan moontlik ons kinders se ondergang beteken. Gelukkig is God ons hemelse Vader en Hy sal ons lei hoe om hier op aarde ouers te wees. In hierdie 6-dag leesplan, gaan ons waardevolle aspekte behandel wat ons as ouers kan implementeer.

More

Hierdie oorspronklike leesplan is deur YouVersion geskep en verskaf.