Onvolmaakte OuerskapVoorbeeld
Karakter
Om karakter te hê, behels meer as dit wat mense dínk ons is. Dit is eintlik wie ons is, veral wanneer ons alleen is. Ons almal het karakter. Die vraag is, watter soort karakter het jy? Is jy eerlik en gaaf, of selfsugtig en onbeskof? Dit verg deursettingsvermoë om die soort karakter te ontwikkel wat sukses teweegbring.
Die merkwaardigheid van 'n goeie karakter is dat ons weet wanneer dit in iemand se lewe teenwoordig is en wanneer nie. Ons as ouers wil graag hê ons kinders moet 'n goeie karakter ontwikkel en “... liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” uitleef — die vrug van die Gees, soos in Galasiërs 5:22-23 vermeld word. Hoe bou ons egter ons kinders se karakter? Deur hierdie eienskappe te demonstreer én hulle daarvan te vertel.
Demonstreer
As ons 'n sterk en veerkragtige karakter in ons kinders wil sien, moet ons dit aan hulle demonstreer deur ons eie optrede. Soos die spreekwoord sê: “Volg daad, nie raad nie.” Ons kinders hou ons fyn dop en indien ons dink ons kan iets vir hulle wegsteek, moet ons maar weer dink. As ons wil hê hulle moet eerlike lewens lei en goeie dade aan ander verrig, is dit ook die manier waarop ons moet lewe. Indien ons kinders die soort mense gaan word wat om verskoning vra vir hulle foute, moet ons ook daardie soort mense wees. Al beteken dit dat ons vir hulle om verskoning en vergifnis moet vra wanneer ons hulle faal.
Vertel
Behalwe om 'n goeie karakter aan ons kinders te demonstreer, moet ons hulle ook daarvan leer. Ons kry so 'n kort rukkie om hulle te leer voordat hulle hul eie lewens begin leef. Elke oomblik is dus kosbaar. Ons moet hulle leer om hard te werk om dinge in hul lewens te verdien. Hulle gaan foute maak en misluk, maar dan moet ons hulle leer om op te staan en weer te probeer. Wanneer hulle sukses behaal, moet ons ook aan hulle verduidelik dat hulle pryse en komplimente in dankbaarheid moet aanvaar, nie in verwaandheid nie.
God het aan ons 'n baie groot verantwoordelikheid gegee om ons kinders hier op aarde te leer. 'n Groot deel daarvan gaan bepaal wie hulle gaan word. Ons moet dus besluit of dit belangriker vir ons kinders is om suksesvol te wees op akademiese- en sportgebied en om gewild te wees, en of dit belangriker is om 'n goeie karakter te bou. Ons kan Romeine 5:3-4 vertrou: “... swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.” Alhoewel ons nie ons kinders iemand van formaat kan laat word nie, kan ons beslis ons deel doen deur in hulle te belê en die Heilige Gees te vertrou om die res te doen.
Aangaande hierdie leesplan
Die druk wat ons op onsself plaas om perfekte ouers te wees is genoeg om vir ons slapelose nagte te gee. Ons dink ons moet die beste ouers wees en dit maak ons angstig om te dink ons kan moontlik ons kinders se ondergang beteken. Gelukkig is God ons hemelse Vader en Hy sal ons lei hoe om hier op aarde ouers te wees. In hierdie 6-dag leesplan, gaan ons waardevolle aspekte behandel wat ons as ouers kan implementeer.
More