Onvolmaakte OuerskapVoorbeeld

Imperfect Parenting

DAG 2 VAN 6

Die Waarde van Nagevolge 

Wanneer ons ons kindjie vir die eerste keer in ons arms vashou, is ons oorstelp, want hulle lyk so perfek. Met verloop van tyd word hulle kleuters, wat kinders word, en uiteindelik tieners. Kort voor lank besef ons dat ons “perfekte” baba ‘n wil van sy/haar eie het. Ons word deeglik bewus van hul sondige natuur en is nie altyd seker hoe om dit te hanteer nie.

Wanneer ons kinders foute maak, is die belangrikste ding wat ons kan doen, om seker te maak dat hulle weet dat ons hulle liefhet. Daarna moet ons hulle egter leer van nagevolge, wat net so belangrik is. Ons hou nie daarvan nie, maar ons almal het dit nodig. Kom ons kyk na die volgende aspekte wanneer ons hulle van nagevolge leer:

Die behoefte
Galasiërs 6:8 sê: “Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes …” Wanneer ons kinders swak besluite neem, is die beste manier vir hulle om ‘n les daaruit te leer en in wysheid te groei, om nagevolge te ervaar. Daar is soveel waarde daarin om deur middel van die pyn van nagevolge te groei, want dit sal hulle weerhou van nog nadelige keuses in die toekoms. Dit skep ook soms vir ons die geleentheid om aan hulle te verduidelik wat genade is, deur hulle vry te stel van die nagevolge. Dit moet egter nie die norm wees nie. 

Die geskiktheid
Die vraag: “Pas die straf by die oortreding?” is iets waaroor ons moet nadink wanneer ons kinders nagevolge moet dra. Ons wil nie te veel of te min straf uitdeel nie. As 'n kind 'n leuen vertel en vir 'n maand gehok word, is die nagevolge nie net oordrewe nie, maar ook nie die beste opsie nie. Aan die ander kant, as die kind 'n bakleiery by die skool begin en die nagevolg is geen videospeletjies vir een dag nie, gaan die kind heel moontlik nie 'n les daaruit leer nie. Dit is wys om die gepaste nagevolg te kies wat sal verhoed dat die kind die oortreding herhaal.

Die tydsduur 
Dis maklik om te oorreageer wanneer ons kinders verkeerde keuses maak en hulle dan vir lang periodes te hok. Hoe lank hulle nagevolge moet dra, hang van hul ouderdomme af. Selfs met tieners is dit wys om die nagevolge kort te hou. Dit gee vir hulle die geleentheid om die volgende keer die regte besluite te neem. 

Om ons kinders steeds te straf wanneer hulle berou toon, is baie moeilik. Ons moet egter nie net die huidige mens wat hulle ís in ag neem nie, maar ook die toekomstige mens waarin hulle gaan ontwikkel. Galasiërs 6:9 sê: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.” Ons kan nie net ouers wees wanneer dit maklik is nie, ons moet sterk staan en ons kinders leer om respek te toon asook om verantwoordelike en onafhanklike grootmense te word. Deur nagevolge te omseil, sal ons hulle sukses as volwassenes belemmer.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Imperfect Parenting

Die druk wat ons op onsself plaas om perfekte ouers te wees is genoeg om vir ons slapelose nagte te gee. Ons dink ons moet die beste ouers wees en dit maak ons angstig om te dink ons kan moontlik ons kinders se ondergang beteken. Gelukkig is God ons hemelse Vader en Hy sal ons lei hoe om hier op aarde ouers te wees. In hierdie 6-dag leesplan, gaan ons waardevolle aspekte behandel wat ons as ouers kan implementeer.

More

Hierdie oorspronklike leesplan is deur YouVersion geskep en verskaf.