Leesplan inligting

Oordenking: Bid vir lande regoor die wêreldVoorbeeld

Around the World Prayer Devotional

DAG 11 VAN 30

Kom Eet by My

Wat kom in jou gedagtes op wanneer jy aan Australië dink? Miskien die strande en lekker kos. Dit word dikwels gemeld dat 85% van Australiërs binne 50 km van die kus af woon. Oorsese vriende wil dikwels weet wat hul nasionale gereg is. Dis 'n moeilike vraag om te beantwoord, met so 'n groot verskeidenheid! In werklikheid is hulle maar net baie lief vir kos.


As jy op 'n somersaand na een van die strande gaan, sal jy altyd mense vind wat vis en skyfies eet en seemeeue wat rond sirkel om 'n warm skyfie of twee te probeer steel. 


Hierdie bekende toneel herinner my aan een van my gunsteling gelykenisse van Jesus in die evangelie van Johannes, in die Nuwe Testament. 'n Groep van Jesus se naaste vriende het besluit om te gaan visvang terwyl hulle probeer het om Jesus se dood van 'n paar dae tevore te verwerk. Hierdie "professionele" vissermanne het die hele nag probeer, maar nie 'n enkele vis in hulle nette gevang nie. Met dagbreek hoor hulle 'n stem van die strand af roep wat vra of hulle enige vis gevang het. 


Ek het al dikwels gewonder hoe ek sou geantwoord het as ek in hulle skoene was. Hulle het geantwoord dat hulle niks gevang het nie en die persoon op die strand sê toe van ver af dat hulle die nette aan die ander kant van die boot moet uitgooi. Hulle doen dit toe en hulle nette word vol vis, soveel dat dit amper skeur en hulle genoodsaak is om aan land te gaan. Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.” 


Daardie eenvoudige woorde is 'n uitnodiging om 'n maaltyd saam te geniet, maar nie kitskos nie. Hy het hulle eerder geroep om op 'n rustige, ontspanne manier saam te eet, gepaardgaande met diepgaande geselskap oor alles behalwe kos.


Australiërs is trots daarop dat hulle uitgebeeld word as kort en bondig in uitsprake, maar ontspanne, gemaklike mense, wat nooit te gespanne word nie en hul reaksie op uitdagings en swaarkry is: "Als sal regkom, maat." Die waarheid is egter heel anders. Selfdoodsyfers vir vyftien- tot vyf-en-twintigjariges is tans die hoogste in tien jaar en selfdood is die hoofoorsaak van sterftes onder jong Australiërs. Ongeveer een-en-veertig duisend jongmense, tussen die ouderdomme van twaalf en sewentien, het al probeer selfdood pleeg en 'n derde van alle sterftes onder jong mans, is te wyte aan selfdood.


Daar is 'n magdom redes vir hierdie krisis in Australië en een daarvan is die verlies aan gemeenskap. Hulle is eensame mense wat uitroep na ware verhoudinge; vir iemand om te sê: “Kom eet saam met my.” Daardie uitnodiging van Christus is vandag nog net so kragtig soos dit vir die dissipels was. Ons, die kerk, moet mense wees wat na ander sal sit en luister en hulle uitnooi in 'n verhouding met Christus. Dis wat ons moet doen.


Gebedsversoeke

· Bid vir die kerk in Australië om 'n voorbeeld te wees van 'n gemeenskap wat omgee.

· Bid dat gelowiges, luisteraars sal wees wat eensames in 'n verhouding intrek na 'n God wat hulle liefhet en wil hê dat hulle die groter verhaal moet verstaan — waarvan hulle deel is. 'n Verhaal wat betekenis en sin aan hulle lewens kan gee. 
Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

Around the World Prayer Devotional

Welkom by jou groot avontuur! Deur middel van hierdie oordenkings gaan ons deur die wêreld reis en waarhede in die Woord van God ontgin. Ons toergidse is vriende van die uiteenlopende netwerk van "OneHope" se wêreldwye v...

More

Ons wil graag vir OneHope bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://onehope.net/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid