VerliesVoorbeeld
VIND DIE GOEIE
Kom ek wees eerlik met jou; ek beny natuurlike optimiste. Jy weet, daardie mense wat lyk of hulle in staat is om 'n silwer randjie om elke wolk te raak te sien ... dit lyk of hulle breine net altyd inskakel op watter stukkie positiwiteit ook al in enige situasie gevind kan word en dit is skielik al wat hulle kan raaksien? Ek wens ek was een van hulle ... maar ek is nie. Die goeie nuus is dat dit nie saak maak waar jy jouself op die optimis-pessimis spektrum sou plaas nie, ons kan almal hoop hê as gevolg van God se beloftes.
Luister, ek praat nie daarvan om jouself net te dwing om te probeer glimlag en iets te vind om oor gelukkig te wees nie. Ek praat van die vertroue dat God altyd getrou is aan sy woord, en dat daar een of ander goeie ding sal wees wat uit enige situasie voortkom (Romeine 8:28). Dit sal nie altyd die spesifieke goed wees waarop ons dalk hoop nie, maar daar sal iets wees wat in ons guns tel. Die uitdaging vir ons te midde van 'n moeilike situasie, is om dit te probeer sien wanneer ons nog nie die einde van ons beproewing kan sien nie. Baie keer sien ons nie die goeie wat God namens ons gedoen het nie totdat ons terugkyk oor 'n verlies vanuit die oogpunt van iets wat reeds gebeur het.
Dus, terwyl ons hierdie 5-dag leesplan oor verlies afsluit, wil ek jou twee uitdagings gee om aan te werk terwyl jy deur pyn en teleurstelling worstel. Eerstens wil ek hê jy moet aanhou soek na die goeie te midde van jou pyn. Soek na enige sprankie hoop wat God jou gee, enige klein verbetering of onverwagte voordele wat jy kan sien, selfs terwyl jou uitdaging nog aan die gang is. Eerlikwaar, jy kan selfs sien watter voordeel dalk uit 'n situasie kan kom, en selfs dit kan broodnodige hoop en perspektief bied.
Tweedens, wil ek hê jy moet die gedeelte van Jakobus wat jy netnou gaan lees memoriseer. Een van die goeie dinge wat God in ons lewens doen deur feitlik elke beproewing waarvoor ons te staan kom, is dat ons sterker word. Ons geloof word versterk, ons het meer moed, ons laat ons nie maklik onderkry nie en ons is oor die algemeen beter mense omdat ons die storm kon weerstaan. Wanneer jy in die versoeking kom om te wanhoop of te fokus op al die onbekende "waaroms", herinner jouself aan Jakobus 1:2-4 en die feit dat God jou elke oomblik van jou stryd help om te volhard. Jou verlies is nie die einde nie ... dit is net 'n hoofstuk in 'n lang verhaal wat God besig is om in jou lewe te skryf.
Aangaande hierdie leesplan
Niemand wil verlies ervaar nie, reg? Maar wanneer omstandighede buite ons beheer intree en geleenthede uit ons hande gryp, wat staan ons dan te doen met die gevoel wat daardie verlies skep? Hoe hanteer ons dit wanneer alles wat ons gedink het gaan gebeur, net verdwyn? Hierdie leesplan sal ons help om na te dink oor hoe God saam met ons deur daardie pyn kan wandel.
More