Dapper VredeVoorbeeld

Courageous Peace

DAG 2 VAN 6

DAG 2 — Wat is Dapper Vrede?

'n Paar jaar gelede, voordat ek getroud was, was ek op soek na 'n nuwe woonplek om te huur en 'n eiendomsagent het vir my 'n skouhuis gaan wys.

Hy het, terwyl hy deur elke kamer van die huis gestap het, in groot besonderheid die eienskappe van die huis beskryf.

Tot ons die badkamer bereik het.

Hy het die deur oopgemaak en 'n afskuwelike reuk het uit die badkamer ontsnap. Die tipe reuk wat jou oë laat traan.

“Daar was laasweek 'n dooie rot in die badkamer se ventilasiesisteem," het die eiendomsagent doodluiters gesê.

Ek onthou dat ek hom gevra het: "Hoe het julle die rot uitgekry?"

Geskok het hy geantwoord: “O, ek weet nie hoe om dit uit te kry nie ... dis nog steeds daar."


Ek vermoed dat baie van ons hierdie benadering ten opsigte van areas in ons lewens volg waar ons nodig het dat Jesus vir ons vrede moet gee. 

“Bekommernis  — Ek weet nie hoe om dit uit te kry nie; dis nog steeds daar."

“Twyfel — Ek weet nie hoe om dit uit te kry nie; dis nog steeds daar."

“Vrees — Ek weet nie hoe om dit uit te kry nie; dis nog steeds daar."

Ons sleutelvers vir hierdie leesplan is Johannes 14:27 (DB):  

"Julle hoef nie bekommerd te wees nie. Ek los ook vir julle ’n geskenk wanneer Ek weggaan: vrede! Moet dit egter nie verwar met die oppervlakkige vrede van hierdie wêreld nie. Dit is vrede wat iemand net by My kan kry. Daarom hoef julle nie gespanne of selfs bang te voel oor die toekoms nie." 

Ons is nie geroepe om tevrede te wees met nederlae nie — in plaas daarvan het God aan ons die gawe van sy vrede gegee. Die vrede wat ons ontvang het, is nie die brose vrede wat die wêreld aan ons bied nie, maar eerder 'n onveranderlike, dapper vrede. 

In 2 Kronieke 20 ontmoet ons vir Josafat, op daardie stadium die koning van Juda. Hy was in 'n hopelose situasie waar 'n páár weermagte hulle omsingel het met die plan om Juda binne te val. In daardie oomblik staan Josafat op en deel 'n gebed met die mense van Juda. In vers 12 bid hy tot God met hierdie woorde: "... Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig.” 

Jy bevind jouself dalk tans in 'n situasie waar jy geen idee het wat om te doen nie, maar jy kan jou oë stip op Jesus hou. 

Dapper vrede is die gewaarwording dat ek na vore kan tree in die wete dat ek my oë op Jesus kan vestig. 

Vrede is die wete dat God aan die werk is, selfs wanneer ons nie verstaan nie. Dit laat ons toe om met vertroue in die karakter van God op te tree. 

In 'n wêreld waar nederlae die norm geword het, kan ons opstaan met die vertroue dat ons dapper kan wees as ons die keuse maak om ons oë op Jesus te hou. 

Ek kan met dapper vrede leef. 


Vrae:

(1) Wat beteken dit vir jou in die huidige tydperk van jou lewe om met dapper vrede te leef? 

(2) Wat het jy as 'n nederlaag afgeskryf wat jy eerder aan Jesus kan oorgee? 


Gebed:

Liewe Vader. Dankie dat U aan my dapper vrede gee. Ek bid dat U aan my 'n dapper gees sal gee om vandag mee tegemoet te gaan. My oë is op U gerig. In die Naam van Jesus. Amen.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Courageous Peace

Hierdie 6-dag leesplan ondersoek hoe ons in chaos ware vrede kan vind, of dit nou is omdat ons met rustelose gedagtes wroeg of omdat ons in 'n rustelose wêreld leef. God se onsigbare werk ín jou, is besig om jou voor te berei vir sy sigbare werk déúr jou. Vrede is meer aansteeklik as wat jy besef. Rob Stanmore is die Pastoor vir die jong volwassenes ("Powerhouse") op die Hills Kampus by Hillsong Kerk.

More

Ons wil vir Powerhouse Hills bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.instagram.com/robstanmore