Om Goddelike Doelwitte te StelVoorbeeld

Setting Godly Goals

DAG 5 VAN 7

Ek het eenkeer vir 'n groepie kinders gevra of hulle 'n maraton sou kon hardloop. 

'n Boek kon skryf. 

Die wendoel in die Curriebeker-eindstryd sou kon aanteken. 

Vir Juanita du Plessis in 'n sangkompetisie kon klop. 

Byna elke hand was in die lug vir elk van die vrae.

Kinders dink hulle kan enigiets doen. Hulle droom groot drome. Hulle kom nie uitgevat na 'n loopbaandag toe as iemand wat in 'n aantrekkamer sit nie. Hulle wil nasionale sport- en popsterre of die president wees. 

Daar gebeur egter iets soos ons ouer word, en baie van ons hou op om te droom. 

Ons is tevrede met "goed genoeg". Ons is tevrede met middelmatigheid. Ons is tevrede met selfvoldaanheid. 

Die volgende is 'n feit: Jy sal nêrens in die Woord van God 'n plek vind waar dit enigiets goeds sê oor 'n middelmatige of selfvoldane Christen nie. 

Dus, terwyl jy voortgaan om Goddelike doelwitte te stel, moet ons baie eerlik met onsself wees wanneer ons opweeg wat om neer te skryf, sodat ons seker is dis werklike doelwitte en nie slegs dinge wat vanselfsprekend is nie. 

Vanselfsprekende dinge kan ons maklik bereik, selfs al doen ons bloot die minimum. Doelwitte verg inspanning. Goddelike doelwitte verg God se krag en nie net ons ambisie nie. 

God kan meer doen as wat ons kan vra, droom of ons kan indink. By Hom is geen perke nie.

Die vraag wat ons dus moet vra is:

Vereis hierdie doelwit God se teenwoordigheid of net myne?

As ons 'n opwindende Christenlewe wil hê, moet ons doelwitte vir onsself stel wat God se teenwoordigheid vereis. 

Jy mag dalk nie die gevaar loop om jou lewe drasties te verwoes nie. Is dit egter nie tragies om te dink dat jy dit dalk mag verspeel nie?

Ek hou daarvan hoe John Piper dit stel in sy boek Don't Waste Your Life:

"Wat jy ook al doen, vind die Godgesentreerde, Christusverheffende, Bybelbevredigende passie vir jou lewe. Vind jou manier om dit te verwoord, dit uit te lewe en om daarvoor te sterf. Dan sal jy 'n verskil maak wat sal hou. Jy sal nie jou lewe verspeel nie."

Die dae is verby van doelwitte wat bloot vanselfsprekend is. Kom ons droom saam met God terwyl ons Goddelike doelwitte stel. 

Vader, dankie dat U 'n God sonder perke is. Vergewe my wanneer ek my lewensloop beplan sonder om te dink aan die rol wat U in my lewe speel. Vader, hier is ek. Gebruik my. Stuur u krag op sulke verstommende maniere dat ander U al meer in my werkswyse sal sien as vir my. Ek is lief vir U. Amen.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Setting Godly Goals

Doelwitte is goed ... solank hulle ons in God se rigting stuur. Indien jy dit oorweeg om doelwitte vir jouself te stel, gebruik dan hierdie leesplan as riglyn om te verseker dat waarna jy streef jou op koers hou vir Christus.

More

Ons wil graag "she works HIS way" bedank wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.sheworksHisway.com