Die Pasgafees, die Ongesuurde Brode en die EerstelingsgerfVoorbeeld
DIE LAASTE PASGA – DIE HEILIGE NAGMAAL
Toe Jesus Christus saam met sy dissipels die pasga gevier het (Matt 26:17-20), het Hy aangekondig dat Hy op die punt staan om die afspraak wat Sy Vader vir Hom gemaak het, om die Pasgalam te wees, na te kom (Matt 26:26-30; Luk 22:14-22) “Want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor 5:7). In die Nuwe Testament word meer as 30 keer melding gemaak van Christus, die Lam.
Tydens die pasga-maaltyd is ongesuurde brode met bitter kruie geëet. Die brode was ongesuurde, ronde, plat koeke, en getuig van haas (Ex 12:39). Die bitter kruie herinner aan die bitterheid wat die volk Israel onder die Egiptenare beleef het. Die Egiptenare het hulle lewe verbitter met swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die landerye (Ex 1:14). Vergelyk Johannes 19:29-30.
Vir die Nuwe-Testamentiese gelowige is Jesus Christus ons Paaslam. Elke gelowige in Christus se hart is besny deur die wedergeboorte (Joh 3:1-7; Rom 2:29; Fil 3:3; Kol 2:11; Deut 10:16).
Ons Paaslam, Jesus Christus, het dan ook tydens die laaste pasga die Heilige Nagmaal ingestel (Matt 26:26-28). Die pasga loop uit op die Heilige Nagmaal en dit moet gevier word tot op die wederkoms van Christus (1 Kor 11:26). Wie deel het aan die Heilige Nagmaal het deel aan die Nuwe Verbond, die Nuwe Testament, wat deur die bloed van Christuis bekragtig is (Heb 9:11-17). Wie dus deel het aan die sakrament van die Nagmaal bely daarmee die versoenende sterwe van Jesus Christus en ook Sy verwagte wederkoms (1 Kor 11:23-32). Die Nagmaal is dus geen menslike instelling nie, maar het sy oorsprong by Jesus Christus tydens die laaste pasga.
Die Nagmaal was eers ‘n ritus, naamlik die pasga, wat deur Christus se bemiddeling deur die Nuwe Testament ‘n heilige sakrament geword het. Anders gestel: Die sakrament van die nagmaal is ‘n ritus wat ‘n verpligting geword het as gevolg van Christus se bevel en weens die verhouding daarvan met die sentrale, essensiële waarhede met betrekking tot saligheid. Die sakrament van die Heilige Nagmaal is dus ‘n heilige, sigbare teken wat deur Christus Jesus ingestel is ten einde aan die mens sy belofte van vergewing van sondes te waarborg en hom dit beter te laat verstaan. Die gebruik van die Heilige Nagmaal voed en onderhou ook ons geloof in Christus, die Paaslam.
Daarom mag ons nooit die woorde van onse Here Jesus Christus vergeet nie: “Neem eet, dit is my liggaam... doen dit tot my gedagtenis; Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit tot my gedagtenis”. Christus het die nagmaal ingestel en Hy het dit gedoen in die nag waarin Hy verraai is, net voordat Hy as ons Paaslam geslag is (1 Kor 5:7).
Soos die pasga die Jood moes herinner aan die wonderlike uitredding uit Egipte, is die nagmaal die teken aan die Nuwe-Testamentiese gelowige, wat ons aan die lyding en dood van Christus herinner, waardeur ons van die sondemag, die wêreld en die duiwel gered word. Die nagmaal herinner ons dus ook aan die bekragtiging van die Nuwe Testament (Luk 22:20). Ons het nou deel aan ‘n nuwe Verbond – die Nuwe Testament wat Christus vir ons daargestel het tot ons redding, verlossing en vergifnis in Sy kosbare bloed.
Die Nuwe-Testamentiese gelowige onderhou dus geensins die herdenking of herinnering van die pasga nie, maar wel die onderhouding van die nagmaal soos deur Christus, ons Paaslam, ingestel tydens die laaste pasga.
Gólgota het nie net ‘n nuwe bedeling ingewy nie, maar ook ‘n nuwe begin vir dié wat verlossing gevind het, deur die Lam wat geslag is (2 Kor 5:17; Gal 6:15).
Die dood en opstanding van Jesus Christus is vir ewig deurweef met die pasga en sy simboliek. Die pasgalam het vooruit gespreek van die Lam van God wat sou kom.
Die verlossing uit Egipte was ‘n vooruitskadu-ing van die groter verlossing wat Jesus Christus sou bring. Wat voorafgegaan het was ‘n skaduwee van die dinge wat sou kom; die werklikheid word egter gevind in Christus.
Vir meer inligting en studies oor die boeke van die Bybel, besoek Raymond Lombard Ministries
Aangaande hierdie leesplan
Ons kyk in hierdie leesplan na die eerste van die drie heilige byeenkomste of feeste van die Here, wat die Israeliete in elke kalenderjaar moes onderhou.
More
Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/