Die Pasgafees, die Ongesuurde Brode en die EerstelingsgerfVoorbeeld
ONGESUURDE BRODE
Die besonderhede van hierdie fees (ongesuurde brode) is ingevleg met dié van Paasfees, en die twee feeste is feitlik saam gehou. Die Paasfeeslam was eintlik die grondslag vir al die ander feeste, maar in die besonder het dit die Fees van Ongesuurde Brode ingewy.
Ons lees van hierdie fees in Levitikus 23:6-8 – “En op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die HERE; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet...” Die fees het sewe dae geduur, naamlik van die 15de tot die 21ste van die maand Nisan (Abib).
Hierdie fees was ‘n herdenking van hulle wegbreek en afskeiding van Egipte. Hierdie fees moes hulle altyd daaraan herinner dat hulle verlos was van Egipte met sy verdrukking, gebondenheid, hartseer en lyding; dit het hulle alles agtergelaat as deel van hulle ou lewens (Ex 13:3-8). Toe Farao in Egipte vir die Jode toestemming gegee het om weg te trek, moes hulle dit haastig doen voordat hy weer van besluit verander, en daar was nie nog tyd om die brood vir padkos in te suur nie. In die Bybel word suurdeeg, weens die gistings- en deurdringings-kwaliteite, oor die algemeen as ‘n metafoor vir sonde gebruik.
“Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met ou suurdeeg ... nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor 5:7-8).
Christus praat ook van suurdeeg as ‘n metafoor vir valse leringe en skynheiligheid (Matt 16:11-12; Mark 8:15; Luk 12:1).
In die Nuwe Testament vind ons Jesus Christus, die Brood van die Lewe, wat uit die hemel neergedaal het en Hy het geen suurdeeg in Hom gehad nie – Hy was sonder sonde (1 Joh 3:5; 2 Kor 5:21; Joh 6:32-35; 47-51; 53-58).
In die Ou Testament het God deur middel van die Fees van die Ongesuurde Brode vir Sy volk gedemonstreer hoe hulle hulleself moet afsonder, dus afskei van Egipte. Die Nuwe-Testamentiese gelowige in Christus, wat verlos is deur die bloed van die Pasgalam, Jesus Christus, moet ook afgesonderd wees van sonde, valse leringe en alle geveinsdheid.
Aangaande hierdie leesplan
Ons kyk in hierdie leesplan na die eerste van die drie heilige byeenkomste of feeste van die Here, wat die Israeliete in elke kalenderjaar moes onderhou.
More
Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/