Die Pasgafees, die Ongesuurde Brode en die EerstelingsgerfVoorbeeld
DIE FEES VAN DIE EERSTELINGSGERF
Die Here beveel Moses: “As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg” (Lev 23:10-11).
Dit is duidelik dat die kinders van Israel nie hierdie fees in die woestyn kon vier nie. Nie net alleen moes hulle in Kanaän wees nie, maar hulle moes die land besit voordat hulle kon oes en die eerste vrugte na God bring.
Hierdie fees moes gehou word op die dag ná die sabbat. Dit is die 17de Nisan, dus die eerste dag van die week, naamlik Sondag. Die doel van die fees vir die Hebreërs was om die garsoes aan die Here toe te wy. God het die land voorsien en regtens behoort die hele oes aan Hom. Die volk was slegs die rentmeesters en deur die eerstelinge (eerste vrugte) van die oes aan die Here op te dra, was dit eintlik verteenwoordigend van die hele oes. Die eerste gerwe is deur die priester voor die Here beweeg (gewuif) as ‘n beweegoffer.
Die eerstelingsgerf herinner ons aan Jesus Christus ons Voorsiener en Opstanding. Paulus skrywe: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het... so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word maar elkeen in sy eie orde; as eersteling Christus...” (1 Kor 15:20-23).
Jesus Christus het uit die dood uit opgestaan, ná die sabbat, op die eerste dag van die week (Joh 20:1, 19). Jesus Christus het die fees van die eerstelinge vervul toe Hy as die eersteling opgewek is uit die dode.
Sy opstanding het die begin aangekondig van die oes van siele wat, deur die Here Jesus Christus, aan God gewy is (Jes 53:10-12; Heb 2:9-13).
Aangaande hierdie leesplan
Ons kyk in hierdie leesplan na die eerste van die drie heilige byeenkomste of feeste van die Here, wat die Israeliete in elke kalenderjaar moes onderhou.
More
Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/