Die Pasgafees, die Ongesuurde Brode en die EerstelingsgerfVoorbeeld
DIE JOODSE KALENDER
“Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees” (Ex 12:2).
Die Jode werk volgens twee kalenders. ‘n Godsdienstige kalender en ‘n burgerlike (siviele) kalender. Die godsdienstige kalender is deur God bepaal (Ex 12:2), en die burgerlike kalender is ‘n sekulêre kalender en is gebasseer op die landbou-seisoene. In ons moderne wêreld gebruik ons vandag die Westerse kalender (Gregoriaanse kalender).
Wanneer ons die drie feesseisoene van oud-Israel in oënskou neem, en dit met vandag se kalender vergelyk, vind ons die volgende benaminge.
Tydens die Babiloniese ballingskap is die name van die oorspronklike godsdienstige kalender na burgerlike benaminge (Sien Ester 8:9; 12; 9:1 ens) verander. Die Joodse kalender is ‘n maan–kalender, en is gebasseer op die beweging van die maand om die aarde. Hulle dag begin met sononder (Gen 1) (ongeveer 6nm) en duur ook 24 uur. Dit neem die maan 29¼ dae om ‘n sirkel om die aarde te voltooi. Dus voltooi 12 maan–maande ongeveer 354 dae (een maanjaar). ‘n Sonjaar, andersyds, neem elf dae langer as ‘n maanjaar, daarom voeg die Jode elke 3de jaar ‘n maand (Adar-Sheni) van 29 dae by om aan te pas by die sonjaar en die seisoene. Ons Westerse kalender (Gregoriaanse kalender) is ‘n sonkalender, dit word bepaal deur die tyd wat die aarde neem om om die son te draai. Die verskillende seisoene word veroorsaak deur die veranderde posisie van die aarde om die son. Dit neem die aarde 365 dae om ‘n sirkel om die son te voltooi. Elke 4 jaar (skrikkeljaar) word 1 dag bygevoeg sodat dit 366 dae lank is.
In die geval van oud-Israel was hul eerste godsdienstige maand (Abib) se naam gedurende die Babiloniese ballingskap verander na Nisan die 7de maand op die burgerlike kalender. Dit stem ooreen met ons Westerse kalender, ongeveer 15 Maart tot 15 April. Die landbou-seisoen in daardie maand is wanneer die gars-oes plaasvind en die paasfees (pasga) gevier word.
Die Here het vir Moses gesê: Die feestye van die HERE.... dit is my feestye ... in die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here.... (Lev 23:2-6). En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees, en julle moet dit as ‘n fees tot eer van die HERE vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier... Dit is ‘n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het” (Ex 12:14, 27).
En op die eerste dag van die ongesuurde brode (Pasga) kom die dissipels na Jesus en sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons vir U klaarmaak om die pasga te eet? En Hy antwoord: Gaan na die stad na ‘n sekere iemand en sê vir hom: Die Meester laat weet: My tyd is naby. By jou sal Ek die pasga hou met my dissipels. Daarop het die dissipels gedoen soos Jesus hulle beveel het, en hulle het die pasga berei (Matt 26:17-19).
Wanneer ons noukeurig let op die instruksies in Exodus 12 wat die Here God daardie eerste pasga aan die Hebreërs gegee het toe Hy hulle uit slawerny uit Egipte gelei het, sien ons die volgende:
- Elke man moes vir sy huisgesin ‘n lam neem op die 10de van die eerste maand (Abib) Nisan. Dit moes ‘n lam wees sonder gebrek (Ex 12:3-5).
- Hierdie lam moes vir 5 dae bewaar word waartydens daar seker gemaak is dat hy sonder gebrek was – hy moes deeglik ondersoek word (Ex 12:6).
- Op die 14de Nisan moes hierdie lam by die deurpos geslag word: verkieslik om 3 nm sodat dit teen 6 nm (die aanvang van die 15de) geëet is (Ex 12:6).
- Die lam se bloed moes opgevang word by die deurpos en die bloed moes gestryk word aan die bo-pos (bo-drumpel) en die twee sy-poste van die deur (Ex 12:7). Die aanwending van die bloed aan die bo-drumpel en deurposte vorm ook ‘n kruis.
- Die huisgesin moes dan deur hierdie deurpos die huis binnegaan, waar hulle beskerm was teen die verderflike plaag (doodsengel) wat deur die land sou trek – dié sou daar verbygaan (PASS-OVER) (Ex 12:13).
- Die hele lam moes gebraai en geëet word: niks mag oorgebly het vir die volgende dag nie. Saam met ongesuurde brode en bitter kruie moes dit geëet word (Ex 12:8-10).
- Met die voorbereiding van die lam, mag geen van sy bene gebreek word nie (Ex 12:46). Om ‘n lam te kon braai volgens hierdie voorskrifte, was dit nodig dat die lam aan ‘n spit vasgemaak sou word sodat die liggaam oopgesprei kon wees oor die vuur. Die spit sou noodwendig in die vorm van ‘n kruis wees.
- Geen onbesnede persoon kon aan die pasga deelneem nie (Ex 12:48). Besnyding was die uiterlike teken dat hierdie persoon in God se verbond is – ‘n bloedverbond. Hy was nou ook geregtig op die voordele van die verbond.
Dit dien hier vermeld te word dat nadat Israel hulle gevestig het in hul land en die tempel in Jerusalem gebou is, die plek wat God uitgekies het, het die mense die lammers na die tempel gebring en daar geslag i.p.v. by hulle eie deurposte. Nog later het die Leviete lammers geteel in Jerusalem en hulle dan tydens pasga verkoop aan diegene wat opgekom het om die fees te hou.
Aangaande hierdie leesplan
Ons kyk in hierdie leesplan na die eerste van die drie heilige byeenkomste of feeste van die Here, wat die Israeliete in elke kalenderjaar moes onderhou.
More
Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/