Jesus is Lewe — 'n Studie oor die Boek JohannesVoorbeeld
Om Te Sterf Is Om Te Lewe
"Wees jouself" is deesdae 'n algemene uitdrukking wat gebruik word. Is hierdie stelling egter 'n goeie leuse vir 'n Christen? Kom ons kyk na Johannes die Doper.
Ons het Johannes die Doper voorheen bestudeer, maar onthou, Johannes is voor Jesus gebore. Hy is afgesonder om die weg vir die Verlosser voor te berei. Hy was 'n pionier vir Jesus. Baie pioniers se lewens word kortgeknip vanweë die groot teenstand wat hulle ondervind.
Eendag terwyl Johannes besig was om mense te doop, het sy dissipels hom vertel dat hulle Jesus se dissipels ook gesien doop het. Dalk het hulle gevoel dat Jesus met hulle bediening wedywer. Miskien was hulle jaloers op Jesus omdat sy volgelinge vermenigvuldig het. Nie Johannes nie. Hy het geweet wat sy roeping is en dit het hom gelei om te sê: "Wees jouself, Jesus." Ek grap net! Hy het gesê: "Hy moet meer word en ek minder" (Johannes 3:30).
Johannes het sy roeping geken, sy doel en sy plek in God se groot plan. Johannes se bediening was spesifiek — hy is gekies om die weg voor te berei. Almal wat na Johannes gekom het, sou deur Jesus deel wees van die nuwe ooreenkoms tussen God en die mensdom.
Vir 'n Christen is dit nie “wees jouself” nie. Is dit: "Jy word minder?" Nie werklik nie. Dit is nie genoeg nie. Dit sal beteken dat daar nog steeds te veel van jou is. Jy is geroepe om aan jouself te sterf. Om wakker te word en aan jouself te sterf sodat Jesus deur jou kan leef. Onthou Johannes 3:3 sê ons moet "opnuut gebore" word. Om opnuut gebore te word beteken jy sterf aan jouself sodat jou lewe in Christus kan begin!
Die Christelike lewe is 'n oproep om te sterf — om jou eie agenda, jou begeertes, jou eie eer af te lê tot sy verheerliking. Net soos Jesus gesterf het om opgewek te word, sal jy elke keer wanneer jy aan jouself sterf, in Christus lewend word, wat 'n baie beter lewe is. Dit is hierdie oorvloedige lewe waarvan ons aan die begin van hierdie leesplan gepraat het! Om aan jouself te sterf beteken om Christus toe te laat om in jou lewend te word, sodat jy jou gawes, jou liggaam en jou persoonlikheid vir sy doel, sy plan en sy verheerliking kan gebruik.
Die oomblik toe jy ja gesê het vir Jesus, het jy van die dood na die lewe oorgegaan (Johannes 5:24). Jy het gesterf en is "opnuut gebore." Jy het nuut geword!
Die feit is, Johannes 1:12-13 sê wanneer jy begin glo, het jy 'n kind van God geword. Dan lees ons in 1 Petrus 2:11 dat jy nou 'n vreemdeling en bywoner in die wêreld is. Volgens Galasiërs 2:20, is dit nou nie meer jy wat lewe nie, maar Christus wat in jou lewe.
Jy word die geregtigheid van Christus en doen niks uit selfsugtige ambisie nie (Filippense 2:3-4). Jy word geroep om jou kruis te dra net soos Jesus dit gedoen het. Jy word uitgenooi om jou begeertes te kruisig, daagliks daaraan te sterf en jou nuwe self aan te trek (Efesiërs 4:22-24). Jy word geroep om asem-vir-asem te leef, stap-vir-stap in eensgesindheid met Christus, want Christus in jou is die hoop van heerlikheid!
Die volgende keer wat jy moedeloos, seergemaak, verlore of selfsugtig voel, onthou dit: Neem jou kruis op en sterf aan jouself. Laat toe dat Christus se lewe deur jou begin skyn.
Nadenke:
Waarop het Johannes gefokus? Wat behoort ons fokus te wees?
Almal wat in Jesus glo het 'n roeping. Wat is joune?
Op watter maniere kan jy aan jouself sterf sodat Christus verheerlik kan word?
Gebed:
Vader dankie vir 'n nuwe en oorvloedige lewe in Christus! Vandag vra ek U om deur my te lewe. Ek lê my agendas en planne neer. Openbaar aan my wat my selfsugtig maak en my eie-ek toelaat in plaas daarvan om U te openbaar. Help my om aan myself te sterf sodat U verheerlik kan word.
*Hou aan met die goeie werk aan jou Jesus Is … joernaal!
Aangaande hierdie leesplan
Ons kan waarlik die oorvloedige en vol lewe ervaar wat Jesus ons gee! Ons doelwit met "Jesus Is Lewe", is om dieper in ons geloof, vertroue en liefde vir Christus Jesus, ons Verlosser te groei. In hierdie 25-dag leesplan van Amy Groeschel, sal ons die eerste vier hoofstukke in die boek Johannes verken om te ontdek dat Jesus lewe is — en daardie waarheid verander alles.
More