Wat Behels Aanbidding?Voorbeeld
Ons aanbid deur God te vereer.
Ons aanbid nie vir God omdat die lewe goed is nie. Ons aanbid vir God omdat Hy goed is! —Darlene Zschech
In die eerste drie dae van hierdie leesplan het ons bespreek wat aanbidding is en hoekom ons vir God behoort te aanbid. Dis maklik om vir God te aanbid as ons lewe vol seëninge is en wanneer Hy ons gebede beantwoord. Ons kan en behoort Hom vir daardie dinge te aanbid! Ons aanbid Hom egter in die eerste plek vir wie Hy is.
Weet jy dat God alomteenwoordig, alwetend en almagtig is? Wat beteken hierdie "al" en "alom"-woorde regtig? Omni, soos in die Engelse woord "omnipresent", is 'n Latynse grondwoord wat "al" beteken. Alhoewel geeneen van hierdie woorde in die Skrif voorkom nie, word die waarheid oor God daardeur aangedui. Kom ons delf 'n bietjie dieper in hierdie kenmerke van God.
Alomteenwoordig.
God is "oral" teenwoordig. Hy is oral, die heeltyd, naby almal en alles. Hy vul die hele hemel en aarde. Dikwels bid gelowiges: "God, wees asseblief vandag by my." Die versoek om God se teenwoordigheid verwys na ons behoefte aan Hom, maar is streng gesproke oorbodig. Hy is alreeds hier, daar en orals, die hele tyd. Ons versoek moet eerder wees: "God, maak my asseblief bewus van u teenwoordigheid."
Alwetend.
God weet alles. Daar is geen perke aan God se kennis nie. Hy besit alles en weet alles. Letterlik. Nie 'n oomblik gaan verby waarin God nie van alles bewus is nie. Daar is absoluut niks wat Hy hoef te leer of te oordink nie. Hy word nooit onkant betrap of verras deur enigiets nie — nooit ooit nie. Hy weet net. Dis verbysterend, nè? Is dit nie ook gerusstellend om te weet dat God ons behoeftes ken nog voor ons gevra het nie?
Almagtig.
God is magtig. Alle mag behoort aan God. Hy besit dit alles. Hy kan enigiets en alles doen. Hy word nooit moeg of uitgeput nie. Sy kragte word nooit getap nie en Hy hoef nooit 'n uiltjie te knip nie. Ons word dalk met "onmoontlike" dinge gekonfronteer, maar met God is enigiets moontlik.
Dis werklik merkwaardig om selfs net 'n deeltjie van wie Hy is, te begryp. Dis hoekom dit maklik behoort te wees om Hom te aanbid vir wie Hy is. Wanneer jy iets nie verstaan nie, bid net.
Oordink
- Lees deur Psalm 145 en verklaar dit aan jou God soos jy lees.
- Watter een van die drie "al"-woorde verwonder jou die meeste? Gebruik 'n bietjie tyd om na te dink oor daardie faset van God; aanbid Hom en dank Hom vir wie Hy is.
- Skryf enige openbaring neer wat God aan jou gegee het tydens vandag se Skriflesing en oordenking.
Aangaande hierdie leesplan
Ons harte neig tot aanbidding. As volgelinge van Christus is ons deur God geskape om Hom te aanbid. Ons is egter geneig om ons bewondering en trou aan mense en dinge te gee, eerder as aan God. Kom saam met ons op hierdie reis en delf dieper in wat aanbidding is en hoe ons 'n leefstyl kan kweek om God ons eerste prioriteit te maak.
More