Wat Behels Aanbidding?Voorbeeld

What Does It Mean To Worship?

DAG 2 VAN 7

Hoekom behoort ons God te aanbid? 

Is dit nie vertroostend dat ons aanbidding vir God nooit oordryf kan word nie? - Francis Chan

Ons aanbid vir God omdat Hy dit waardig is. Hy is elke sekonde van elke dag ons aanbidding waardig. Alles wat asemhaal, is geskape om God te aanbid.

Op enige gegewe dag rig ons ons aanbidding aan iets of iemand wat dit nie verdien nie. Slegs God is waardig om die heerlikheid, eer en mag te ontvang, want Hy is die Skepper van die heelal (Die Openbaring 4). Ons behoort God so hoog te ag dat ons Hom bo alles en voor alles aanbid en koester. Om God waarlik te kan aanbid, moet ons Hom ken, of ten minste lewenslank soekend daarna wees om Hom te ken. Die Woord van God, die Bybel, het baie inligting oor die God wat ons dien. Die Ou Testamentiese hoofstukke in Psalms is deurweef met waarhede oor Hom, sy karakter en sy weë. Hier is 'n kykie na party daarvan: 

Hy is ons Vader, ons God, ons Rots en ons Verlosser. Hy is ons Son en Skild. Hy is almagtig en vir ewig gevestig, soos die maan. Hy het die wêreld gevestig, Hy het die noorde en suide geskep en Hy heers oor die golwende oseane. Ons God is in majesteit geklee en bewapen met krag, en Hy is verhewe bo alle nasies. Hy het die oor ontwerp en die oog gevorm, en Hy bepaal die aantal sterre en noem hulle elkeen by die naam. Hy behandel ons nie volgens ons sonde nie, en straf ons nie volgens ons oortredinge nie. Hy het deernis, Hy sal nooit sluimer nie en Hy is God met 'n hoofletter "G", groter as al die sogenaamde "gode".

Dis wie ons God is, en Hy is ons ontsag, bewondering en toewyding vir ewig waardig. Sy karakter is diepgaande. Sy dade is merkwaardig. Sy oppergesag oor die heelal is onpeilbaar. 

Kom ons, as Christus se volgelinge, wy ons lewens daaraan toe om die enigste Een te aanbid wat aanbiddingswaardig is. Oor die volgende vyf dae gaan ons fokus op vyf maniere waarop ons God kan aanbid: 

  • Ons aanbid deur musiek.
  • Ons aanbid deur Hom te vereer.
  • Ons aanbid as ons sy mense dien.
  • Ons aanbid deur sy hart te vertrou.
  • Ons aanbid deur ons wil aan Hom te onderwerp.

Die lys is nie volledig nie, maar is slegs 'n beginpunt om ons te help leer hoe om 'n lewe van aanbidding te leef. 

Oordink

  • Lees Psalm 98 en verklaar dit aan jou God.
  • Dink aan drie karaktertrekke van God wat in Psalm 98 voorkom (of enige ander Psalm) en aanbid Hom daarvoor.
  • Skryf enige openbaring neer wat God aan jou gee tydens vandag se Skriflesing en oordenking.
Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

What Does It Mean To Worship?

Ons harte neig tot aanbidding. As volgelinge van Christus is ons deur God geskape om Hom te aanbid. Ons is egter geneig om ons bewondering en trou aan mense en dinge te gee, eerder as aan God. Kom saam met ons op hierdie reis en delf dieper in wat aanbidding is en hoe ons 'n leefstyl kan kweek om God ons eerste prioriteit te maak.

More

Hierdie oorspronklike Leesplan is geskep en verskaf deur YouVersion.