God Se Droom Vir Jou LeweVoorbeeld

Hoe Probleme Jou Kan Verbeter, nie Verbitter
Die lewe is onregverdig. Jy gaan probleme, moeilikheid en seer teëkom wat jou óf gaan verbeter óf verbitter. Jy gaan óf groei óf opgee, word wie God wil hê jy moet wees of jou hart verhard. Jy moet besluit hoe jy gaan reageer op die moeilike tye in jou lewe. Hoe gaan jy dit hanteer?
Wanneer jy deur moeilike tye gaan, is wat mét jou gebeur nooit so belangrik soos wat bínne jou gebeur nie. Dit is jou karakter wat jou die ewigheid in volg, nie jou omstandighede nie.
In Handelinge 27 leer ons drie maniere hoe om nie te reageer nie:
1. Moenie wegdryf nie. “Die wind het die skip meegesleur. Omdat dit onmoontlik was om die skip se boeg wind op te hou, het ons dit opgegee en wind af gedrywe” (Handelinge 27:15). Die skip wat Paulus en die ander gevangenes Rome toe geneem het, was in die middel van die Middellandse See, en het vir veertien dae nie die son gesien nie, so hulle het nie geweet watter kant toe nie. Toe laat hulle die skip sommer net dryf.
Sommige mense begin só dryf wanneer hulle deur moeilikhede gaan. Hulle het geen doel, rigting, ambisie of droom vir hul lewe nie. Hulle leef doelloos. Die probleem daarmee is dat jy op pad na die afgrond is. Die lewe is nie 'n vars bries nie. Die lewe is moeilik. Moenie jou ambisie en droom verloor net omdat jy begin sukkel nie.
2. Moenie oorboord spring nie. “Omdat ons baie swaar gekry het in die storm, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi” (Handelinge 27:18). Hulle moes die skip ligter maak, so hulle het eers die vrag oorboord gegooi en daarna die skip se toerusting en selfs die kos. Hulle het van dinge ontslae geraak wat hul benodig het, omdat die storm so sterk was.
Wanneer die angs en storm in jou lewe te groot raak, is 'n mens geneig om weg te loop van jou waardes en verhoudinge. Jy sê: "Ek gee op, my huwelik werk nie meer nie. Ek gee my droom prys om universiteit toe te gaan.”
God sê: “Bly by die skip!” Het jy dit in jou huwelik al gedoen? Het jy gesê: " Egskeiding is nie 'n opsie vir ons nie. Ons gaan dinge maak werk." As jy nie het nie, gaan jy altyd in die versoeking gelei word om te wil opgee. Jy moet die sleutel weggooi wat daardie deure oopmaak om die karakter te kan bou wat God van jou verlang. God kan situasies en persoonlikhede verander. God kan jou verander, maar nie as jy die heeltyd oorboord spring nie! Ek het uit persoonlike ondervinding geleer dat dit nooit God se wil is dat ons weghardloop van moeilike omstandighede af nie. God wil hê ons moet leer, groei en ontwikkel. Hou aan.
3. Moenie wanhopig raak nie. “Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word” (Handelinge 27:20). Na veertien dae van totale donkerte waartydens hul die skip se vrag, toerusting en kos oorboord gegooi het, het hulle uiteindelik moed opgegee. Hulle het een ding vergeet: in elke storm is God in beheer. Hy het jou nie verlaat nie. Jy voel Hom dalk nie naby aan jou nie, maar as jy ver weg voel van God af, raai wie is die een wat beweeg het?
God is met jou in die storm, en Hy gaan jou daardeur help. Hy toets jou om te sien of jy Hom gaan vertrou. Gaan jy die toets slaag?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Die Bybel sê in Matteus 9:29: “Wat julle glo, sal gebeur.” Dit is die geheim om Jesus Christus te volg. God sê: "Jy besluit hoe ek jou lewe seën. Jy glo, Ek seën.” Vergesel Pastoor Rick in hierdie reeks oor hoe om te glo en getrou te wees aan God se droom vir jou lewe.
More