'n Lewenswyse van AanbiddingVoorbeeld

Lifestyle Of Worship

DAG 3 VAN 7

Om die Vader se Hart te Behaag

Psalm 37:4:

"Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer." 

In die AFR83 weergawe van die Bybel, is die opskrif van die Psalm: "Laat jou lewe aan die Here oor". Laat ek verduidelik hoekom dit wyse raad is.

Een van die maniere waarop koning Dawid graag vir God wou behaag, is deur 'n permanente huis vir Hom te bou. Ons kan die Skrifgedeelte in 2 Samuel 7 lees.

Om iemand te behaag, beteken om daardie persoon regtig baie gelukkig te maak.

Sedert my kinderjare het ek die gewoonte gehad om dinge te doen wat mense gelukkig sou maak, veral my ouers. Op 'n manier wou ek hê hulle moes voel dat ek hulle gunsteling is. Jare later, toe ek in graad 5 of 6 was, het ek dit op my geestelike lewe toegepas. Ek het aangebied om die kerk skoon te maak en sou dit stoksielalleen doen, want ek het gedink as iemand my sou help, die seën ook gedeel sou word. Eendag, terwyl ek die kerk skoonmaak, het ek skielik 'n wonderlike "halleluja"-lied gehoor. Dit was 'n nuwe melodie (onbeskryflik mooi) en het geklink soos 'n groot koorsang. Ek het nog nooit so iets gehoor nie. Op daardie oomblik het ek gedink iemand bak my 'n poets. Ek het eers na 'n paar jaar verstaan dat dit die geluid van 'n menigte engele was wat "halleluja" gesing het. Ek glo daardie dag het 'n soort salwing op my lewe gekom wat ek nou nog ervaar, elke keer as ek aanbid.

Dit is soos koning Dawid wat sê: "Here, ek sal vir U 'n huis bou" en die Here antwoord hom en sê: "Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan" (2 Samuel 7:16).

Op 'n manier het die gewoonte van my kinderjare my nie verlaat nie en ek hou steeds daarvan om dinge te doen wat ek voel die Vader se hart sal behaag. Dit kan so eenvoudig wees soos om vir iemand te glimlag of om vriendelik met iemand te wees of om liedere oor sy grootheid te sing. Ek doen hierdie dinge omdat ek weet dat my begeertes en dade Abba Vader behaag.

Die vers gaan dan voort deur te sê dat Hy jou die begeertes van jou hart sal gee.

As jy begeer om 'n lewe te lei wat Hom sal behaag, sal Hy verheug wees om aan jou die begeertes van jou hart te gee. Daarom word die Psalm tereg "Laat jou lewe aan die Here oor" genoem.

God het baie van my hartsbegeertes vervul, maar ek wil nog graag hierdie een deel. Ek het lank 'n begeerte gehad om 'n kontrak met 'n platemaatskappy aan te gaan sodat ek baie albums vir Jesus kon opneem. Ek was toe nog jonk en nie juis bedrewe nie, en destyds was daar nie 'n maatskappy in Indië wat musiekopnames vervaardig het nie. Na soveel jare het God hierdie begeerte van my vervul toe ek 'n kontrak by "Jaago Music" gekry het. My hartsbegeerte is vervul deur liedjies vir die kerk te skryf en deur "Jaago Music" die lig te laat sien. Ek is innig dankbaar teenoor Jesus dat Hy hierdie begeerte van my hart toegestaan het.

Ek glo, terwyl jy hierdie oordenking lees, dat God vir seker jou hartsbegeertes sal toestaan as jy jou in Hom verheug.

'n Lewenswyse van aanbidding sal altyd gedryf word deur hierdie diep begeerte om God te behaag en ons in Hom te verheug.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Lifestyle Of Worship

Jesus het gesê: "God is Gees en sy aanbidders moet Hom in gees en in waarheid aanbid." As jy gewonder het hoe hierdie vers van toepassing is op jou daaglikse lewe, dan sal hierdie sewe-dag leesplan jou begrip van aanbidding verbeter en jou in staat stel om 'n lewe van aanbidding te lei. Hierdie oordenking het getuienisse en praktiese wenke vir 'n lewenstyl van aanbidding.

More

Baie dankie aan Selvam Nadar en "India Revival" Bediening wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://indiarevivalministries.org/