Ons Daaglikse Brood - Bybelse GrondbeginselsVoorbeeld

Our Daily Bread - Bible Basics

DAG 12 VAN 12

4. Openbaring: Profesie

Soos ons deur die Nuwe Testament gewerk het, het ons gesien hoe die verhaal van God se redding deur Christus, stelselmatig soos 'n boekrol oopvou. Ons het van groot gebeure gelees: die wonderbare geboorte van Christus, die drie jaar van sy openbare bediening, sy opofferende dood, en sy opstanding. Uit die teleurstellende gebeure op Golgota, verrys die dissipels, herskep en bemagtig deur die Heilige Gees, om die kerk te vestig en dwarsdeur die wêreld uit te brei. Tot vandag lewe die kerk nog steeds, waarskynlik nou sterker as wat dit in vorige geslagte was. 

Hoe sal dit egter uiteindelik lyk? Wat gaan volgende gebeur? Wat wag vir die kerk in die toekoms—en vir die hele wêreld?

Die antwoorde kom na Johannes, Jesus se geliefde dissipel, in 'n reeks drome en visioene. In die boek Openbaring, is dit opgeteken in uiters figuurlike taal. Dit sit die kerk se toekoms uiteen, asook dié van die hele mensdom.

Johannes se visioen oor die verlede (Openbaring 1-3). Johannes sien vir Christus, die Hoof van die kerk, wat tussen staanlampe wandel. Hulle verteenwoordig die sewe gemeentes in die provinsie Asië. Aan hierdie gemeentes word woorde van goedkeuring, beskuldiging en vermaning gerig. Aan dié wat volhard, word geestelike beloning met Christus se terugkeer belowe. 

Johannes se visioen van die hemel (Openbaring 4-5). Eerstens sien ons die troon van God wat glinster in heerlikheid en deur aanbidders omring word, terwyl hulle God loof vir sy wonderlike skepping. Johannes het begin huil toe niemand gevind word wat waardig is om die boekrol oop te maak nie. Hy word aangesê om op te hou huil en ontvang dan die visioen van 'n Lam wat geslag is (verteenwoordigend van Jesus Christus) en in die middel van die troon in die hemel staan. 'n Koor bars los met lofprysing vir die Lam wat werd is om die boekrol oop te maak, want Hy het sy mense met sy eie bloed gekoop.

Johannes se visioen oor die toekoms (Openbaring 6-22). Die grootste gedeelte van die boek Openbaring handel oor toekomstige gebeure. Hierdie gedeelte kan in drie afdelings verdeel word: die verdrukking (Openbaring 6-18), Christus se terugkeer en verwante gebeure (Openbaring 19-20), en 'n visioen van die hemel (Openbaring 21-22).

1. Die verdrukking. Die uitstorting van God se toorn is in 'n visioen aan Johannes gewys met die oopmaak van die sewe seëls, die geluid van die sewe trompette, en die uitgieting van die inhoud in die sewe bakke. Die oopmaak van die sewe seëls het die volgende aan Johannes openbaar:

Eerste seël: 'n wit perd—die antichris

Tweede seël: 'n rooi perd—oorlog

Derde seël: 'n swart perd—hongersnood

Vierde seël: 'n vaal perd—dood

Vyfde seël: siele van martelare by die altaar

Sesde seël: aardbewings—vernietiging

Sewende seël: aanvang van die sewe trompette

Die geluid van die trompette sal 'n verskriklike verwoesting op die aarde inlui: 'n Derde van al die plantegroei op aarde sal deur hael en vuur verwoes word; 'n derde van die lewende wesens in die see sal deur 'n vuurspuwende berg vernietig word; 'n derde van die riviere sal deur 'n vallende ster vergiftig word; 'n derde van die sterre en planete sal verduister; en 'n derde van die aarde se bevolking sal deur die duiwel se weermag van 200 miljoen doodgemaak word. Tussen die geluid van die sesde en sewende trompette het Johannes 'n visioen gesien van 'n engel met 'n klein boekie en twee getuies. 

God sal die rebelse nasies op aarde straf. Intussen sal sy vyande, die Satan en sy handlangers, beheer oor uitgestrekte dele van die wêreld se bevolking kry. Die aarde, wat steier onder oorlog en dood, sal met godslastering en boosheid gevul word. 

Dan sal sewe bakke, gevul met God se toorn, oor die aarde uitgegooi word. Een na die ander sal plae, veel erger as wat ooit voorheen gesien is, die aarde tref. 'n Menigte Christene sal as martelare sterf. Die Satan se verteenwoordiger, die antichris, sal sy leërs in Palestina aanvoer om die Jode uit te wis.

2. Christus se terugkeer. In hierdie gedeelte van Johannes se visioen, sien hy die hemel oopgaan en die Here Jesus Christus wat in heerlikheid na die aarde terugkeer, omring deur ontsaglike groot leërs. Hy sien ook hoe die antichris by Armageddon verslaan word en die Satan vir 1000 jaar in 'n bodemlose put vasgeketting word.

Nadat die Jode hulle in geloof tot God as hul ware Messias gekeer het, sal Hy sy troon in Jerusalem vestig om vir 1000 jaar in geregtigheid, voorspoed en vrede oor die aarde te heers. Aan die einde van hierdie millennium, sal die Satan vrygelaat word en lei hy 'n finale opstand teen die Here. Die rebelle sal deur vuur uit die hemel vernietig word en die Satan sal vir ewig in die poel van vuur gewerp word. Die aarde en hemel soos ons dit ken, sal deur 'n nuwe aarde en hemel vervang word. Alle gelowiges sal opgewek word en voor die groot wit troon geoordeel word.

3. 'n Kykie na die hemel. Johannes se visioen word afgesluit met 'n omvangryke oorsig van die nuwe hemel en aarde. Mure, beslaan met juwele, riviere van kristal, strate van goud en die boom van die lewe, sal die gelowiges se ewige tuiste wees. Hulle sal in die teenwoordigheid van God, hul Verlosser-Koning, die Here Jesus Christus, vir ewig lewe.

Om God te sien. Hierdie manjifieke, dog vreesaanjaende visioene van Openbaring help ons om God beter te leer ken. Jy sal van baie waarhede oor God leer terwyl jy die boek lees. Byvoorbeeld:

In Christus se boodskappe aan die sewe kerke, sien ons God se diepe besorgdheid oor die geestelike welstand van sy mense (Openbaring 2-3).

In die visioen van die hemeltroon, sien ons die majestueuse, verhewe, onbeperkte heerlikheid van God (Openbaring 4).

In die seëls, trompette en die bakke van oordeel, sien ons God se woede oor 'n sondige en rebelse wêreld (Openbaring 6-18). 

In die oorwinning oor en verbanning van die Satan, sien ons dat God die mag het om sonde en boosheid te oorwin (Openbaring 19-20).

In die beskrywing van die hemel, sien ons die goedheid van God wat tot in ewigheid bewys word (Openbaring 21-22). 


Besoek die volgende webwerf  vir 'n video en addisionele bronne:https://christianuniversity.org/courses/bible-basics/ 

Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Our Daily Bread - Bible Basics

Is jy nuuskierig oor die Bybel? Is enigiets hiervan nog vir vandag toepaslik? Die Bybelse Grondbeginsels Leesplan bied jou 'n oorsig oor die Bybel en sal demonstreer hoe die Ou- en Nuwe Testament se boeke bymekaar inskakel. Jy sal geestelike insigte ontdek wat vandag tot jou hart sal spreek en jy sal verstaan hoekom die Bybel 'n blywende en invloedryke boek is. Begin vandag — dis net twaalf, 5-minuut oordenkings met daaglikse Bybelleesstukke.

More

Baie dankie aan Ons Daaglikse Brood wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.ChristianUniversity.org