Ons Daaglikse Brood - Bybelse GrondbeginselsVoorbeeld

Our Daily Bread - Bible Basics

DAG 7 VAN 12

 

Die Nuwe Testament voltooi die verhaal wat in die Ou Testament begin het. Dit vertel van die koms van Jesus Christus, die langverwagte Joodse Messias. Selfs al het Hy nie 'n woord daarvan geskryf nie, is die Nuwe Testament sy boek. Dit beskryf sy leringe en die verhaal van sy lewe, dood en opstanding. Sy volgelinge het beweer dat hulle met gesag van God geskryf en gepraat het. Hierdie boek het 'n meer diepgaande en betwisbare impak op die wêreld gehad as enige ander boek wat ooit geskryf is. 

Miljoene het dit lief gehad. Deur die eeue het mense wat vasgevang was in sonde, lewe en vryheid gevind deur geloof in die een wat die Nuwe Testament se skrywers verkondig. Diegene wat gevange gehou was deur tralies en mure, soos Fyodor Dostoevski in Siberië en die gevangenes van konsentrasiekampe, het vryheid van denke, hart en siel gevind deur sy woorde. Mense vasgekluister in gebroke liggame, of gebonde deur fisiese lyding, of gemartel deur 'n onsigbare vyand, of slawe van geestelike duisternis, of gebind deur onverbiddelike wettiesheid, of geknak deur angswekkende self-twyfel het deur geloof op sy boodskap van vryheid gereageer. Hulle het uitgestap in die lig van God se vrymakende, nooit-veranderende liefde, soos dit uitgedruk word in die Nuwe Testament.  

Miljoene het dit gehaat. Keisers soos Nero en Diokletianus het probeer om die Nuwe Testament te vernietig. Filosowe soos Voltaire verklaar dit is 'n dooie boek van leuens. Sosiale wetenskaplikes het die oplossings van die mensdom se probleme, soos na vore gebring deur die nederige Galileër, bespot. "Moderne" en "futuristiese" mense het sy morele waardes as hopeloos oudmodies bestempel en verklaar dat dit 'n boek vir die verlede is - 'n boek sonder krag om 'n impak te maak op die wêreld in die 21ste eeu. 

Al is dit so, leef die Nuwe Testament voort. Dieselfde brandende boodskap wat die Romeinse wêreld verower het, het die vure van die transformasie aangesteek, en die groot herlewings van die 19de eeu aangesteek wat voortgaan om met liberale helderheid te brand. 

Hoekom het hierdie versameling van 27 boeke, wat in die laaste helfte van die eerste eeu deur 'n paar geesdriftige volgelinge van die Joodse Messias geskryf is, so 'n impak? Omdat dit deel is van die Bybel, die een boek in die hele wêreld wat ons na God kan bring. Die evangelie van Jesus Christus het die krag om elke ketting wat ons bind, te breek. Ja, die Nuwe Testament bring God na ons toe en dit kan ons na Hom toe bring. Daardeur kan ons Hom ken op 'n persoonlike, bevrydende, groeiende manier.

Die agtergrond van die Nuwe Testament

God was stil vir 400 jaar. Die toegewydes van Israel het vergeefs gewag vir God om weer te praat, en vir hul verwagte Messias om te kom. Maar niks is onthul sedert die profeet Maleagi sy pen neergesit het, nadat die Ou Testament klaar geskryf is nie. Dan, op skielike, dapper, verreikende manier, het God Homself op twee maniere bekendgemaak: (1) deur die koms van Jesus Christus, sy Seun, en (2) deur die skryf van die Nuwe Testament. 

Die wêreld het baie verander gedurende daardie 400 jaar van stilte. Palestina self was heelwat anders as daardie sukkelende dae toe Joodse yweriges van Babilon teruggekeer het om hulle tempel en die mure van Jerusalem te herbou. 

Om die impak van Christus se koms en die agtergrond van die Nuwe Testament te verstaan, moet ons onsself vergewis van politiese, sosiale, ekonomiese, en gelowige kragte wat in die wêreld geleef het waarin die Here Jesus gebore is. 

Die Romeinse wêreld. Rome was die oorheersende krag in die eerste-eeuse wêreld. Sy weermagte het met mag en akkuraatheid oor Europa, die Midde-Ooste, en Afrika gemarsjeer, en het nasie na nasie onder sy beheer gebring. Palestina het in 63 v. C. voor Generaal Pompey geval. Alhoewel hulle swaar belas is, het Israel gebaat by die Romeinse ryk:

Vrede. Die wêreld het vrede gehad in die Nuwe Testament.
 

Die regering. Die keiser het die mag gehad om heersende goewerneurs te dwing om goed te regeer. In baie gevalle het dit hulle daarvan weerhou om groot private rykdom te versamel ten koste van die mense.
 

Reis. As gevolg van die Romeinse vrede, kon mense vrylik van land tot land reis.
 

Kommunikasie. Die vloei van inligting was die beste wat die wêreld ooit geken het. As gevolg van hierdie faktore, het die Christendom 'n ferm vastrapplek gekry en vinnig gegroei onder Romeinse heerskappy. 

Griekse invloed. Hoewel die Griekse ryk ten gronde gegaan het voor die Nuwe Testamentiese dae, was dit steeds 'n kragtige wêreldinvloed op die volgende maniere:

Taal. Aleksander die Grote se blitsvinnige veroweringe (331 - 322 v. C.) het Grieks die dominante taal van die beskaafde wêreld gemaak. Toe die Romeine gebiede verower het, het hulle die volgehoue gebruik van Grieks aangemoedig. Dit het die Christendom bevoordeel omdat: (1) 'n gedeelde taal die verspreiding van die evangelie makliker gemaak het, en (2) die Nuwe Testament in Grieks geskryf is en deur almal verstaan kon word. 

Kultuur. Die Griekse denke het basiese vrae oor die mensdom, lewe en die bonatuurlike gekonfronteer. Die Griekse digters, dramaturge, en filosowe het daardeur die weg gebaan vir die bevredigende antwoorde wat die Christendom na 'n soekende en ontevrede wêreld gebring het. 

Joodse agtergrond. Die Joodse agtergrond van die Nuwe Testament was belangrik omdat: (1) die Christendom gebore is in 'n Joodse omgewing, en (2) die Christendom gewortel was in wat God alreeds aan sy mense bekendgemaak het deur die Ou Testament. 

Toe Jesus gelewe het, is Juda geregeer deur amptenare wat deur Rome aangestel is. Maar die Jode is toegelaat om hulle eie interne sake te hanteer. Hulle het dit gedoen deur die Joodse Raad, 'n heersende liggaam wie se leier die hoëpriester was. 

Die geestelike lewe van Israel was gesetel in twee instansies. Die eerste was die tempel, wat onlangs deur Herodes die Grote herbou is. Dit was 'n manjifieke struktuur, gebou om die Jode te bevredig. Ou Testamentiese rituele is noukeurig uitgevoer deur toegewyde Jode van alle vlakke van die samelewing. Die tweede, die sinagoges, was die middelpunt van aanbidding en onderrig en was versprei deur die hele land. Hulle dienste was eenvoudig, het bestaan uit gebede, Skrifvoorlesing en verduidelikings. Joodse seuns is in sinagoges geleer, en hulle lering was hoofsaaklik geestelik. Dit was in hierdie kombinasie van Romeinse heerskappy, Griekse denke en Joodse tradisie wat Jesus gebore is en die Christendom wortel geskiet het. 


Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Our Daily Bread - Bible Basics

Is jy nuuskierig oor die Bybel? Is enigiets hiervan nog vir vandag toepaslik? Die Bybelse Grondbeginsels Leesplan bied jou 'n oorsig oor die Bybel en sal demonstreer hoe die Ou- en Nuwe Testament se boeke bymekaar inskakel. Jy sal geestelike insigte ontdek wat vandag tot jou hart sal spreek en jy sal verstaan hoekom die Bybel 'n blywende en invloedryke boek is. Begin vandag — dis net twaalf, 5-minuut oordenkings met daaglikse Bybelleesstukke.

More

Baie dankie aan Ons Daaglikse Brood wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.ChristianUniversity.org