Ons Daaglikse Brood - Bybelse GrondbeginselsVoorbeeld
2. Handelinge: Geskiedenis
Die dissipels se hoop was vernietig toe Jesus gesterf het. Sy kruisiging het hulle verstrooid en ontnugter gelaat. Die nuus van sy opstanding het hulle egter weer hoop gegee en sy verskyning het hulle herskep. Vanuit daardie groepie mans het die kerk vinnig wêreldwyd gegroei. Die boek Handelinge vertel die verhaal van die kerk se begin. Ons sal daarna kyk onder vier opskrifte: krag, verkondiging, vervolging en Paulus.
Krag (Handelinge 1 - 2:13). Voordat Jesus na die Vader opgevaar het, het Hy sy dissipels beveel om in Jerusalem te wag vir die koms van die Heilige Gees. Tien dae later, terwyl die dissipels saam was op Pinksterdag, is die Heilige Gees uitgestort.
"Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen" (Handelinge 2:1-4).
Dit was die begin van die kerk, die "geroepenes" van alle geslagte wat die liggaam van Christus vorm. Wat soos vlamme gelyk het, het op elke dissipel gerus en hulle het in vreemde tale begin praat wat hulle nooit geleer het nie. 'n Geluid soos 'n huilende wind het veroorsaak dat 'n skare begin saamdrom, en mense afkomstig uit baie lande, het die dissipels in hul moedertaal hoor praat. Die groot instelling vir hierdie era, die kerk, het begin.
Verkondiging (Handelinge 2:14 - 3:26). Jesus het gesê die dissipels sou krag ontvang om sy getuies te word. Dieselfde dag wat hulle daardie krag ontvang het, het hulle begin om Christus te verkondig. Petrus het met groot moed die skare toegespreek. Die tema van sy preek was dit: Julle het julle langverwagte Messias laat kruisig, maar God het Hom uit die dood opgewek. Toe die mense vra wat hulle moet doen, het Petrus geantwoord:
"Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang" (Handelinge 2:38).
Daardie dag het omtrent drie duisend mense tot bekering gekom en is by die getal van die gelowiges gevoeg. Petrus en Johannes het weer in die Pilaargang van Salomo gepreek, en baie meer het in die reddende boodskap van die evangelie begin glo.
Vervolging (Handelinge 4:1-8:3) Met die kerk se groei het ook teenkanting gekom. Petrus en Johannes is gevange geneem, omdat hulle die mense van Jesus se opstanding geleer het, en is beveel om daarmee op te hou. Hulle het egter geweier en vir selfs meer vrymoedigheid gebid om die evangelie te verkondig. Die Sadduseërs was jaloers op die apostels se gewildheid en het hulle laat arresteer en in die tronk gegooi. Nadat hulle in die nag deur 'n engel bevry is, is die apostels weer gevang en voor die Joodse Raad gebring, waar hulle geslaan is en beveel is om nie te preek nie. Hulle het vir die Raad gesê dat hulle God, eerder as mense, sal gehoorsaam en hulle het voortgegaan om daagliks te preek en te onderrig.
Die godsdienstige leiers se haat vir die Christene is uiteindelik op Stefanus gefokus. Toe hy voor die hoëpriester gebring is, het Stefanus met geweldige krag gepreek, en sy toespraak afgesluit met hierdie sterk woorde van veroordeling:
"Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook. Was daar ooit 'n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor. Julle is die mense wat deur bemiddeling van engele die wet van God ontvang het, en tog het julle dit nie gehoorsaam nie" (Handelinge 7:51-53).
Die skare was woedend. Opgesweep deur die godsdienstige leiers, het hulle Stefanus met klippe doodgegooi. 'n Man in die skare met die naam Saulus, het die mense wat die klippe gegooi het, se klere vasgehou. Hy het toe die leierskap oorgeneem in die vervolging van die Christene, deur van huis tot huis te gaan en mans sowel as vrouens in die tronk te laat gooi. Die vervolging het in Jerusalem begin. Die gelowiges is uitmekaar gejaag en verstrooi, maar het die evangelie oral met hulle saamgeneem. Sommiges het na Damaskus gegaan en Saulus het toestemming gekry om hulle te gaan arresteer.
Paulus (Handelinge 9:1-28:31). Terwyl Saulus na Damaskus onderweg was, het daar skielik 'n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond geval en 'n stem het met hom uit die lig gepraat. Toe Saulus vra wie is dit wat praat, het Jesus hom geopenbaar. Oombliklik is Saulus bekeer. Jesus het hom beveel om na die stad te gaan. Verblind is hy na die huis van Judas in Damaskus gelei, waar die Here Ananias gebruik het om Paulus se sig te herstel.
Wat 'n omwenteling! Die vervolger het die volgeling geword; die teëstander het die gelowige geword. Hy sou die groot sendeling vir die heidene word—die een wat die Europese skans sou breek om die evangelie tot in die hart van Rome te bring.
Paulus se roeping was om die evangelie na die heidene uit te dra. Vergesel van Barnabas, Silvanus of Timoteus, het hy van stad tot stad gegaan en Jesus verkondig. Sy benadering was om na die sinagoge te gaan en as rabbi te onderrig. Gewoonlik het die Jode hom teengestaan, maar hy het nogtans volgelinge bymekaar gemaak. Hy sou dan in die stad bly, met gelowiges in huise vergader, en aanhou om te preek en te leer terwyl dit veilig was. Soms het dit slae, geseling, of tronkstraf geneem om hom te laat verder gaan. Duisende het begin glo en kerke is in private huise gestig. Nadat Paulus verder gegaan het, het hy dikwels aan die kerke geskryf om die gelowiges se geloof te versterk, om hulle leerstellings te korrigeer, of om hulle te onderrig in Christelike gedrag.
Die dag het aangebreek dat Paulus nie langer tronkstraf kon vermy nie. Hy is in Jerusalem gearresteer waar hy hom op sy Romeinse burgerskap beroep het. Hy is oornag na Sesarea geneem, voor hy na Rome gestuur is waar hy vir twee jaar onder huisarres was. Hy het dit nogtans reggekry om te preek, te onderrig en met die gemeentes wat hy gestig het te korrespondeer.
Die aanvanklike werk was gedoen. Die kerk, stewig gevestig in Jerusalem, het versprei deur die hele Romeinse wêreld. Duisende mense van alle vlakke van die samelewing het geglo. Die vlam wat op Pinksterdag aangesteek is, brand vandag nog helder.
Om God te Sien. Ons kan God beter leer ken deur die geskiedenis van die kerk soos dit in Handelinge opgeteken is. Oorweeg die volgende:
Deur die koms van die Trooster, sien ons God laat nie sy mense sonder hulp nie (Handelinge 2).
In die vestiging en groei van die kerk, sien ons God het voorsien in die geestelike en persoonlike behoeftes van gelowiges (Handelinge 2:40-47).
In die vrymoedigheid van die dissipels sien ons die krag van die Heilige Gees wat vandag nog vir ons beskikbaar is (Handelinge 4:33).
In die vervolging van die Christene sien ons hoe God teëspoed in geleenthede en prestasie verander (Handelinge 8:4).
In die sendingreise sien ons hoe God hulp verleen in sy opdragte (Handelinge 16:20-26).
Aangaande hierdie leesplan
Is jy nuuskierig oor die Bybel? Is enigiets hiervan nog vir vandag toepaslik? Die Bybelse Grondbeginsels Leesplan bied jou 'n oorsig oor die Bybel en sal demonstreer hoe die Ou- en Nuwe Testament se boeke bymekaar inskakel. Jy sal geestelike insigte ontdek wat vandag tot jou hart sal spreek en jy sal verstaan hoekom die Bybel 'n blywende en invloedryke boek is. Begin vandag — dis net twaalf, 5-minuut oordenkings met daaglikse Bybelleesstukke.
More