Ons Daaglikse Brood - Bybelse GrondbeginselsVoorbeeld
1. Die Evangelies: Biografie
Die Nuwe Testament verhaal begin met die huil van 'n pasgebore baba. In Betlehem in Judea is 'n seun gebore vir Josef van Nasaret en sy jong vrou, Maria. Maar hierdie was geen gewone geboorte nie. Dit was 'n maagdelike geboorte, soos dit in die Ou Testament geprofeteer is, aangekondig is deur engele en moontlik gemaak is deur 'n wonderwerk.
Jesus se geboorte. 'n Engel het aan Maria, 'n toegewyde Joodse meisie verskyn, om haar drie verstommende dinge te vertel: (1) Sy sou die moeder wees van die "Seun van die Allerhoogste" aan wie "die troon van sy vader Dawid" gegee sou word. (2) Hy sou wonderbaarlik verwek word deur die Heilige Gees. (3) Haar bejaarde niggie Elisabet was swanger.
Josef, Maria se aanstaande man, was ontsteld toe hy hoor dat sy swanger was. Maar hy is deur 'n engel vertel dat die baba wat in haar verwek is van die Heilige Gees kom, dat hy met haar moes trou, en dat hierdie kind "sy mense sou red van hul sondes".
Toe dit tyd geword het vir Maria om geboorte te skenk, was sy en Josef in Betlehem, "die stad van Dawid," kilometers weg van hulle huis, omdat Rome beveel het dat almal in Palestina ingeskryf moes word vir belasting in die stad van hulle afkoms. Dit het die profesie van Miga vervul.
Engele het Jesus se geboorte aan herders op 'n heuwel in Judea bekendgemaak. Oosterse sterrekykers het die ster wat hulle gelei het gevolg om Hom te aanbid. Josef is deur 'n engel in 'n droom gewaarsku om na Egipte te vlug, om sodoende die kind te red van die massamoord deur die jaloerse, wrede koning Herodes.
Jesus se inhuldiging. Die kind wat vir Elisabet gebore is, was Johannes die Doper. Hy het begin preek en die Jode tot berou geroep ter voorbereiding vir die koninkryk van God. Diegene wat hulle harte gereinig het, het daarvan getuig ter voorbereiding om gedoop te word.
Een dag, terwyl Johannes besig was om te doop in die Jordaanrivier, het Jesus na hom gekom en daarop aangedring om gedoop te word. Terwyl Hy in die water was, het die Heilige Gees op Hom neergedaal soos 'n duif en die Vader in die Hemel het sy tevredenheid uitgespreek. Johannes se woorde: "Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" het Jesus aan die wêreld bekendgestel as die Messias-Saligmaker. Die volgende dag is Jesus deur die Heilige Gees die woestyn ingelei, waar hy deur die Satan versoek is. Jesus het sy vyand se aanval gefnuik deur uit die Ou Testament aan te haal.
Jesus se openbare bediening. Na sy versoeking in die woestyn, het Jesus begin om Homself aan die mense bekend te stel. Sy 3 jaar van openbare lewe is gekenmerk deur 3 groot aktiwiteite: lering, wonderwerke en opleiding van sy apostels.
Die Bergpredikasie was Jesus se eerste groot lering. In dit het Hy die beginsels om in sy koninkryk te leef, sy verhouding met die wet, en instruksies oor gebed aangebied. Hy het op maniere geleer wat die gewone mense verstaan het: gelykenisse, kort, interessante standpunte en doelgerigte lesse. Tog het Hy met gesag geleer.
Sy leringe het gepaard gegaan met wonderwerke. Hy het gedemonstreer dat sy bewering dat Hy die Seun van God was, die waarheid was, deur sy krag te wys oor die natuur, demone, siektes en selfs die dood.
Jesus het 12 mans gekies om sy apostels te wees. Gedurende die laaste 2 jaar van sy openbare bediening, was hierdie mans feitlik altyd saam met Hom. Dit was belangrik, want die verantwoordelikheid om sy plan uit te voer sou vierkantig op hulle skouers val wanneer Hy weggaan.
Skares het na Jesus toe gestroom. Waar Hy ook al gegaan het, was Hy omring deur 'n menigte. Die gewone mense het Hom aanvaar, en Hy het gou gewild geraak.
Maar die geestelike leiers van Israel het Hom gehaat. Hulle het aanstoot geneem omdat Hy so gewild was en hulle het sy beweringe verag. Vir hulle was Hy 'n indringer en 'n lasteraar, so hulle het begin saamsweer om Hom dood te maak.
Soos sy bediening tot 'n einde gekom het, het selfs die skares Hom versaak. Sy vyande het meer dapper geword. Laastens het een van sy apostels saamgesweer om Hom te verraai.
Jesus se dood. Elkeen van die vier evangelieskrywers het sy boek afgesluit met 'n weergawe van die laaste dae van Jesus se lewe. In Matteus beslaan dit 9 hoofstukke; in Markus 6; in Lukas 4 ½ lang hoofstukke; en in Johannes 10. Dit behoort ons nie te verras nie, want Jesus het dit van die begin af duidelik gemaak dat Hy gekom het om sy lewe te gee. Hy het sewe keer vir sy dissipels gesê Hy moet Jerusalem toe gaan om te sterf.
Jesus het Jerusalem toe gegaan met Paasfees, die jaarlikse herdenking van Israel se redding van die dood van die eersgeborenes in Egipte. Toe Hy in die stad van Sion gekom het, was dit met 'n triomfantlike binnekoms, Hy is deur die gewone mense vereer. Die volgende dag het Hy die geldwisselaars uit die tempel gegooi.
Sy vyande, aangevoer deur Kajafas, die hoëpriester, het Jesus se dood beplan. Hy het een laaste keer met sy dissipels vergader in die bovertrek, en terwyl hulle daar bymekaar was, het Judas weggegaan om Hom te verraai. Jesus het die nagmaal ingestel voordat Hy na die Tuin van Getsemane gegaan het om te bid. Daar is Hy in hegtenis geneem deur 'n magdom mense en toe in 'n onregmatige verhoor, deur die Joodse Raad skuldig bevind en voor Pilatus gebring. Toe die Romeinse goewerneur nie die massas kon oorhaal om Hom vry te laat nie, het hy Hom aan hulle oorgelewer. Jesus is na Golgota gelei, waar Hy saam met twee misdadigers gekruisig is. Toe Hy gesterf het, is sy liggaam deur twee van sy volgelinge geëis en in 'n nuwe graf begrawe.
Alles het verlore gelyk vir Jesus se dissipels. Maar drie dae later het Hy uit die dood opgestaan. Hy het privaat aan sy dissipels verskyn op verskeie geleenthede, en is ook gesien deur honderde ander. Hy het die dood oorwin! Hy is die laaste keer gesien toe Hy opgevaar het na die Hemel, 40 dae na sy opstanding.
Om God te sien. Omdat Jesus God in die vlees was, en omdat die Evangelies sy verhaal vertel, vertel dit ons baie van God. Hier is 'n paar voorbeelde van wat Jesus se lewe, dood en opstanding ons vertel van God.
In Jesus se geboorte sien ons die genade van God, want Hy het Homself verneder om tot ons redding te kom (Matteus 1:21-23).
In Jesus se lering sien ons die wysheid en goedheid van God, want Hy vertel ons wat om te glo en hoe om te lewe (Johannes 12:49-50).
In Jesus se wonderwerke sien ons die onbeperkte krag van God om die natuur, siektes, en dood te beheer (Markus 4:35-41; Lukas 7:11-18; 9:37-42).
In Jesus se opleiding van die Twaalf, sien ons God se begeerte om deur sy mense te werk (Johannes 14:12).
In Jesus se dood sien ons hoe ver God sal gaan om ons van ons sondes vry te koop (Johannes 3:16).
In Jesus se opstanding sien ons die bonatuurlike krag van God om die dood te oorwin (Markus 16:1-8).
Aangaande hierdie leesplan
Is jy nuuskierig oor die Bybel? Is enigiets hiervan nog vir vandag toepaslik? Die Bybelse Grondbeginsels Leesplan bied jou 'n oorsig oor die Bybel en sal demonstreer hoe die Ou- en Nuwe Testament se boeke bymekaar inskakel. Jy sal geestelike insigte ontdek wat vandag tot jou hart sal spreek en jy sal verstaan hoekom die Bybel 'n blywende en invloedryke boek is. Begin vandag — dis net twaalf, 5-minuut oordenkings met daaglikse Bybelleesstukke.
More