Ons Daaglikse Brood - Bybelse GrondbeginselsVoorbeeld

Our Daily Bread - Bible Basics

DAG 4 VAN 12

Nedersetting (1440 - 1050 v.C.)

Toe die afdeling, "Die Begin", geëindig het, was Israel op die wal van die Jordaanrivier, gereed om Palestina binne te val. Israel se leier, Moses, was dood; maar God het Josua opgerig, 'n nuwe leier om die mense in Kanaän in te lei. Hulle eerste hindernis was die Jordaanrivier. Die hele nasie het vorentoe beweeg, agter die Verbondsark aan. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op "een hoop" gaan staan en die mense het oorgeloop in die land wat aan Abraham belowe was. 

Direk in hulle pad was Jerigo, 'n ommuurde en versterkte stad. Deur 'n wonderwerk het die mure inmekaar gestort en die stad is oorwin. Na 'n kort oponthoud by Ai, omdat Akan gesondig het, het die weermag Kanaän binne marsjeer. In 'n briljante militêre veldtog het hulle die meeste van die Beloofde Land verower. Die stamme het hulle gevestig in die dele wat deur God aan hulle gegee is en stamhoofde het regeer. Verowerde stede het vestings vir die stamme geword en die mense het vakmanne, boere en herders geword. Na Josua se dood het die stamme meer en meer onafhanklik geword. Daar was min sentrale regering. Rigters het na vore gekom om streke te lei — manne soos Otniël, Gideon, Jefta en Simson — maar omstandighede het oor die algemeen verswak totdat Israel in 'n staat van anargie was. Ons word vertel dat "elkeen gedoen het wat reg was in sy eie oë." 

'n Mooi liefdesverhaal word vertel van Rut, 'n Moabitiese weduwee van 'n Israeliet, wat van armoede verlos is deur Boas. Omdat hy 'n familielid was van haar skoonma Naomi, kon hy met haar trou en so haar man se grond terugkoop vir haar erfporsie.

Aan die begin van die tiende eeu is die stamme van Israel deur die Filistyne bedreig. Simson het hulle 'n tyd lank teruggehou, maar na sy dood het die gevaar toegeneem. Die behoefte vir die stamme om hulle kragte saam te snoer het voor die hand liggend geword.

Om God te sien. As ons terug kyk na die periode van Israel se nedersetting, kan ons God sien op 'n manier wat ons sal help om Hom beter te ken. Byvoorbeeld, as jy die verhaal lees van hoe Israel die Jordaan oorgesteek het (Josua 3—4), kan jy die volgende waarhede oor God waarneem:  

Hy hou sy beloftes.

Hy gee sy mense rigting (3:8).

Hy belowe om saam met diegene te wees wat saam met Hom vorentoe beweeg (3:7).

Hy ondersteun sy aangestelde leiers (3:7).

Hy het die krag om buitengewone hindernisse in veilige paaie te verander (3:5).

Hy maak sy teenwoordigheid bekend (3:15-16).

Hy het die krag om die natuur te beheer (3:15-16).

Hy wil hê sy magtige werke moet onthou word en aan ons kinders oorvertel word (4:1-7).

Hy wil hê die nasies moet sy mag ken (4:21-24).   

Om onsself te sien. Die mense van die antieke tye was baie soos ons. Oorweeg byvoorbeeld die volgende: 

In die bevestiging van Josua se roeping, sien ons ons behoefte vir versekering (Josua 1—2).

In Akan se sonde om rykdom te begeer, sien ons ons eie gierigheid (Josua 7).

In Gideon se vlieswol sien ons ons eie begeerte vir sigbare kommunikasie van God af (Rigters 6).

In Jefta se eed sien ons ons eie onbesonne onderhandeling met God (Rigters 11).

In Rut se pleidooi sien ons ons eie behoefte vir 'n losser (Rut 4).

Israel wat aanhoudend in sonde terugval, laat dink ons aan ons eie geestelike ondervinding.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Our Daily Bread - Bible Basics

Is jy nuuskierig oor die Bybel? Is enigiets hiervan nog vir vandag toepaslik? Die Bybelse Grondbeginsels Leesplan bied jou 'n oorsig oor die Bybel en sal demonstreer hoe die Ou- en Nuwe Testament se boeke bymekaar inskakel. Jy sal geestelike insigte ontdek wat vandag tot jou hart sal spreek en jy sal verstaan hoekom die Bybel 'n blywende en invloedryke boek is. Begin vandag — dis net twaalf, 5-minuut oordenkings met daaglikse Bybelleesstukke.

More

Baie dankie aan Ons Daaglikse Brood wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.ChristianUniversity.org