Nuwe Jaar, Nuwe GenadeVoorbeeld
In teenstelling met menslike liefde, wat dikwels onvoorspelbaar en tydelik is, sal God se liefde jou nooit faal nie.
Ek hou baie van Psalm 136. Ek hou van al die Psalms, maar Psalm 136 verstom my elke keer as ek dit lees. Ek hou van die herhaling van woorde wat dit uniek maak. Ek hou daarvan dat dit 'n geskiedenis Psalm is wat, weens die refrein, in 'n liefdesgedig verander. Ek hou daarvan dat dit oor en oor bevestig wat ons weer en weer moet hoor — nie net een of twee keer nie, maar ses-en-twintig keer! Ek dink dat ek en jy maar net moet stilbly wanneer God praat, maar ek dink ook dat ons noukeurig aandag moet gee wanneer God Homself herhaal, en nog meer as Hy Homself só baie kere herhaal!
Waarom herhaal God "Aan sy liefde is daar geen einde nie" oor en oor deur die psalmskrywer? Daar is twee antwoorde op hierdie vraag.
Eerstens, daar is nie nog 'n werklikheid wat meer ingrypend en gegrond is op 'n Bybelse wêreldsiening en 'n persoonlike gewaarwording van identiteit as hierdie een nie. Wat is die Bybelse verhaal? Dit is die verhaal van 'n God van liefde wat as sy Seun van liefde in die wêreld gekom het om sy koninkryk van liefde te kom vestig deur 'n radikale offer van liefde, om ons in liefde te vergewe en in sy familie van liefde te betrek, en om ons met dieselfde liefde as ambassadeurs uit te stuur. Al die hoop van die gevalle mensdom berus op hierdie een ding – dat daar 'n Redder is, wat vir ewig onwrikbaar is om te verlos, vergewe, versoen, verander en liefde te gee. Daarsonder sou die Bybel net 'n boek met interessante stories en nuttige beginsels wees, sonder enige krag om te herstel wat sonde stukkend gemaak het.
Die tweede rede hoekom God hierdie refrein herhaal, is omdat ons geen ondervinding van hierdie soort liefde in ons lewens het nie. Jy verstaan gewoonlik iets nuuts vanuit jou eie oogpunt en ervaring. Al die menslike liefde wat ons ondervind het, was op een of ander manier gebrekkig. God se liefde is nie so nie; sy liefde is volmaak en vir altyd standvastig. Dit is die een uitstaande, wonderlike waarheid in 'n gelowige se lewe. God het sy liefde in ons geplaas en Hy sal dit nooit wegvat nie. Daar is 'n rede om aan te gaan, ongeag hoe swaar die lewe soms is en hoe swak jy soms voel.
Leer meer oor New Morning Mercies: A Daily Gospel Devotional deur Paul David Tripp.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Oor die loop van die volgende 15 dae sal Paul David Tripp jou herinner aan God se genade teenoor jou – waarhede wat nooit oud word nie. Wanneer "gedragsverandering" of 'n goeie spreuk nie genoeg is om jou nuut te maak nie, leer om op God se goedheid te vertrou, staat te maak op sy genade en elke dag tot sy heerlikheid te leef.
More