Nuwe Jaar, Nuwe GenadeVoorbeeld

New Year, New Mercies

DAG 11 VAN 15

As jy vrygemaak is van die behoefte aan sukses, om geprys te word en om goed te voel oor jouself, weet jy dat jy genade ontvang het.

Dit is 'n intens menslike strewe. Dit is waarna ons almal soek. Ons almal wil goed voel oor onsself. Ons wil graag dink dat dit met ons reg is. Dit is 'n vreesagtige en angstige soeke waarvan slegs genade jou kan vrymaak. 

Wat met ons almal gebeur, is — ons soek op horisontale vlak na rus, wat eintlik net op vertikale vlak gevind kan word, dus werk dit nooit nie. Dit is nodeloos om op ander mense staat te maak vir jou innerlike welstand. Eerstens, jy sal nooit, aanmekaar, goed genoeg wees om deurgaans deur ander geprys te word soos jy verlang nie. Jy sal iewers iets verkeerd doen. Jy sal onvermydelik mense teleurstel. Jy sal 'n slegte dag ervaar. Jy sal die pad byster raak. Op een of ander stadium sal jy iets sê of doen wat jy nie moes nie. Neem ook in ag dat die mense om jou nie juis daarin geïnteresseerd is om jou persoonlike verlosser te wees nie. Hulle wil nie die verantwoordelikheid vir jou identiteit in hul hande hou nie. Om dus op mense staat te maak vir jou selfwaarde, werk nooit nie. 

Die vrede wat sukses bring is buitendien gewoonlik ook onbetroubaar. Omdat jy nie perfek is nie, sal enige sukses wat jy in staat is om te behaal, na 'n kort tydjie deur een of ander mislukking gevolg word. Dan is daar ook die feit dat die opgewondenheid oor sukses nie lank hou nie. Nie lank na die een sukses nie, soek jy al weer na 'n ander een om jou aan die gang te hou. Dis waarom die werklikheid dat Jesus jou geregtigheid geword het, so kosbaar is. Sy genade het ons vir altyd bevry van die behoefte om ons geregtigheid en waarde te bewys. Ons herinner onsself dus elke dag daaraan om nie op 'n horisontale vlak na iets te soek wat ons reeds op 'n vertikale vlak ontvang het nie. "Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet" (Jesaja 32:17). Sulke geregtigheid kan 'n mens net in Christus vind. 

Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

New Year, New Mercies

Oor die loop van die volgende 15 dae sal Paul David Tripp jou herinner aan God se genade teenoor jou – waarhede wat nooit oud word nie. Wanneer "gedragsverandering" of 'n goeie spreuk nie genoeg is om jou nuut te maak nie, leer om op God se goedheid te vertrou, staat te maak op sy genade en elke dag tot sy heerlikheid te leef.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/new-morning-mercies-hcj/